|

Strand-buurtwag pak vlaag inbrake wat Longlands kwel

AfriForum se Strand-buurtwag het onlangs in samewerking met ander veiligheidsrolspelers die Longlands-woonbuurt gepatrolleer om die vlaag inbrake wat dié gebied teister, te pak. Die patrollie was ’n dawerende sukses, aangesien die gewapende reaksiespanne, bestaande uit die AfriForum-buurtwag, Vetus Schola Protection Services, Fidelity ADT, AM Security, Gordon’s Bay Security en Secure Rite Security, daarin geslaag het om waardevolle inligting in te samel oor die vermeende inbrekers se bewegings.

Die spanne kon tydens die patrollies die moontlike wegkruipplekke van die inbrekers identifiseer en hoe dié boewe die naburige treinspoor gebruik om maklik en ongesiens weg te glip nadat hulle onregmatige toegang tot eiendomme verkry het. Die patrollering het toegesien dat verskeie veiligheidsrolspelers die gebied, wat strek van die N2-brug tot by die treinstasie, deeglik kon fynkam.

“Die AfriForum-buurtwag en die ander rolspelers se teenwoordigheid in die gebied het enige kriminele elemente ontmoedig om gou weer hierdie woonbuurt te teiken,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland. “Al hierdie rolspelers is daartoe verbind om die veiligheid van die Longlands-gemeenskap te verseker. Dit is slegs deur hierdie soort proaktiewe inisiatiewe en effektiewe samewerking wat misdaad bekamp en die publiek beveilig kan word.”

Maak vandag nóg ’n verskil in hierdie gemeenskap en raak by ’n AfriForum-tak en buurtwag betrokke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings