|

Iets stink by Stellenbosch-munisipaliteit

Deur Marthinus Koekemoer

Die Stellenbosch-munisipaliteit speel steeds ’n nie oop kaarte nie. Dít terwyl daar aanduidings is dat rou riool in die Eerste- en Veldwagtersrivier in die Eikestad vloei. AfriForum het reeds in Oktober verlede jaar ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan dié munisipaliteit gerig en inligting oor dié situasie aangevra. Die aansoek sowel as die daaropvolgende appèl is van die hand gewys. Die burgerregteorganisasie het daarom nou ’n klag by die Inligtingsreguleerder (IR) ingedien om die munisipaliteit te dwing om aan verlede jaar se aansoek gehoor te gee.

Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Groendruppelverslag wat in November verlede jaar vrygestel is, skets ’n kommerwekkende prentjie van die rioolsuiweringsaanlegte in Stellenbosch. ’n Kumulatiewe risikogradering van 86,4% is in hierdie verslag aan die Stellenbosch-aanleg toegeken (’n hoër persentasie dui op ’n hoër risiko). Dit plaas hierdie spesifieke rioolsuiweringsaanleg, waar kwessies soos prosesbeheer, instandhouding en kapasiteit as probleemareas geïdentifiseer is, in die hoërisikokategorie. Die jongste toetse het ook gewys op die voorkoms van hoë vlakke E. coli (Escherichia coli) in sommige watermonsters. Die aanvaarde vlak is 10 dele per 100 ml, maar in hierdie monsters is tot 200 000 dele per 100 ml aangemeld. Die verslag som voorts die Stellenbosch-munisipaliteit se prestasie as treurig en kommerwekkend op.

Die ligging van die Eerste- en Veldwagtersriver in Stellenbosch, soos uiteengesit in die studie “Occurrence of contaminants of emerging concern in the Eerste River, South Africa: Towards the optimisation of an urban water profiling approach for public- and ecological health risk characterisation” wat in 2023 in Science of the total environment, volume 859, deel 1, Februarie 2023 verskyn het.

Karin Hanekom, voorsitter van AfriForum se Stellenbosch-tak, sê boere in die omgewing was eerste om die besoedeling op te merk. Dit is boonop ook die boere wat die swaarste deur die besoedeling geraak word, meen sy. “Boere het die besoedeling in die besproeiingswater gesien. Uitvoerdruiwe en -pere is in gedrang as die gehalte van die water nie verbeter nie. Ons tak beplan om ’n groter deel van ons begroting aan te wend om die situasie te moniteer en seker te maak die munisipaliteit kom hul verantwoordelikhede na.”

Bill Hulme, bestuurslid van die Stellenbosch-tak gemoeid met omgewingsake, verduidelik dat die munisipaliteit van die begin af gesukkel het om die nuwe rioolsuiweringsaanleg behoorlik te bedryf. “Die nuwe aanleg is ’n paar jaar gelede gebou en as deel van die kontrak moes die kontrakteur wat die bouwerk hanteer het, die aanleg self bestuur voordat dit aan die munisipaliteit oorgedra is.” Volgens Hume het probleme op hierdie aanleg ná oordrag begin.

“Deel van die proses om riool by só ’n aanleg te prosesseer, is om dit eers in damme te laat lê om sekere stowwe te laat afsak. Daarna kan die boonste water vir behandeling verder gepomp word. Die damme moet van tyd tot tyd skoongemaak word. Dit gebeur blykbaar ongereeld of word glad nie gedoen nie. Op een of ander stadium kan die aanleg nie meer voorbly nie en dan pomp die munisipaliteit duisende liters rou riool in die rivier. ’n Mens kan dit duidelik sien, want die water is swart en stink verskriklik,” gaan hy voort.

Ongeag van die DWS se verslag en AfriForum se pleidooie vir inligting van die Stellenbosch-munisipaliteit is die PAIA-aansoek, waarin kritieke inligting rakende die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte en die gehalte van gesuiwerde rioolwater aangevra is, botweg geweier. Dié burgerregteorganisasie is boonop van mening dat inligting uit munisipale bronne dié van die DWS opsetlik weerspreek in ’n poging om die probleme te misken. AfriForum beskou die inligting wat in die PAIA-aansoek aangevra is as noodsaaklik, veral as in ag geneem word dat die besoedelde rivierwater die publiek se gesondheid en die plaaslike ekonomie kan bedreig.

’n Blik op ’n riooldam by die Stellenbosch-rioolsuiweringsaanleg soos dit in 2022 gelyk het. Die foto is op die Facebook-groep Eersterivier / Rioolsloot gepubliseer.

Volgens Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, is Stellenbosch-munisipaliteit se onlangse bewerings dat daar “geen probleme” met water in dié munisipaliteit is nie, strydig met dit wat bronne soos die Groendruppelverslag toon. “Die inwoners van Stellenbosch sal nie langer toelaat dat die munisipaliteit hulle ’n rat voor die oë draai nie,” beklemtoon hy. “Die waarheid moet uit en AfriForum is gereed om voort te veg in die belang van inwoners, ondernemings, boere en die gemeenskap se ekonomie.”

AfriForum het intussen ook ’n onafhanklike en geakkrediteerde laboratorium opdrag gegee om omvattende watertoetse te onderneem en onder meer gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die Veldwagters- en Eersterivier te ondersoek. Die resultate van die verslag sal na verwagting aanstaande jaar vrygestel word.

(Dekfoto: Die Eersterivier, Gert du Plessis, Facebook, 9 Septemeber 2022)

Soortgelyke plasings