AfriForum knap Trichardt-begraafplaas op

AfriForum se Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) en lede van die gemeenskap het op 16 Maart die Trichardt-begraafplaas skoongemaak.

Hierdie projek is deur gemeenskapslede  begin, wat verlede maand tydens ’n skoonmaakaksie by die Secunda-begraafplaas deur amptenare van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit verjaag is. Die gemeenskap en die Teks-tak was verbied om met die aksie voort te gaan. Kort ná hierdie voorval is die Teks-tak oorval met navrae om ander gebiede op te ruim en dis toe dat hulle die Trichardt-begraafplaas takel.

Die Govan Mbeki-munisipaliteit het darem nie die werksaamhede by die Trichardt-begraafplaas probeer ontwrig nie. Ongeveer 1 800 vierkante meter se gras is gesny en opgeruim. Die begraafplaas is so oorgroei dat sekere dele twee keer gesny moes word. Die tak beoog om die projek op 13 April voort te sit. Inwoners wat wil help kan Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak, skakel op 079 488 7608.

“Ons sal egter nie toelaat dat die munisipaliteit ons hiet en gebied soos wat dit hulle pas nie. Ons is hier om die gemeenskap te dien en sal aanhou om dit te doen,” sluit Du Plessis af.

Inwoners word versoek om AfriForum se Teks-tak te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings