Die NGV-wetsontwerp: Waarom dit verwerp moet word
Deur Zel-Marí Gelderblom
Die meeste Suid-Afrikaners voel dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) teengestaan moet word, veral medici, soos onlangs berig deur Netwerk24: “99% van medici reken staat sal ’n gemors van NGV maak.”
Die wetsontwerp is reeds hersien sedert dit op 8 Augustus 2019 in die Staatskoerant gepubliseer en later deur die Nasionale Vergadering gewysig is, en daar is bevind dat dit tot nadeel van gesondheidsorgvoorsiening in Suid-Afrika sal wees indien dit geïmplementeer word. Waarom probeer die staat dan steeds om hierdie verdoemende wetsontwerp deur te druk?
Verskeie organisasies en individue het hulle standpunte oor die NGV duidelik gestel deur te beklemtoon dat die wetsontwerp onrealisties is, ’n standpunt wat selfs deur die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, erken is. Die regering beskik eenvoudig nie oor die finansiële hulpbronne om die NGV-skema te ondersteun nie, en daar is ’n tekort aan gesondheidsorginfrastruktuur.
Die wetsontwerp bevat tans ’n magdom klousules wat vir die Minister ’n oorweldigende mate van mag gee om arbitrêre besluite oor gesondheidsorg te neem. Daar is ook ’n gebrek aan voldoende besonderhede in die wetsontwerp, insluitend ’n gebrek aan inligting oor wanneer, hoe, wat dit sal kos, en wie die skema sal bestuur. Verder word daar gewaarsku dat dit die uitvloei van gesondheidswerkers uit die land kan veroorsaak en ’n verdere breinkwyn kan aanmoedig.
Die politieke motivering van die wetsontwerp is ’n ander belangrike faktor wat nie misgekyk moet word nie. Dit lyk asof die NGV meer oor politiek en ideologiese oorwegings gaan as oor die daadwerklike verbetering van gesondheidsorg vir die armste en kwesbaarste mense. Hoekom word ’n alternatiewe benadering soos ’n kombinasie van openbare en private gesondheidsorg nie eerder oorweeg as ’n doeltreffender alternatief vir ’n regeringsbeheerde stelsel nie? Myns insiens moet daar eerder gefokus word op die deregulering van die gesondheidsorgsektor om ondernemingsgees aan te moedig en werkgeleenthede te skep. Gemeenskapsgebaseerde gesondheidsorgoplossings kan ’n groter impak hê op die verbetering van gesondheidsorg as ’n gesentraliseerde besluitnemingsproses. Verder is dit belangrik vir die regering om ekonomiese groei te bevorder en doeltreffende oplossings vir bestaande probleme in die gesondheidsorgstelsel te vind, eerder as om nuwe en onrealistiese skemas soos die NGV te probeer implementeer. Die geld wat vir die NGV beoog word, kan beter bestee word aan die herstel en verbetering van bestaande openbare hospitale wat tans onderpresteer.
Ter afsluiting, die NGV-wetsontwerp skend verskeie grondwetlike regte, insluitend die reg op gesondheidsorg wat berus op die individu se reg op waardigheid en vryheid van keuse. Die meeste navorsing dui daarop dat die NGV nie ’n goeie idee is nie en dat dit waarskynlik ’n duur mislukking sal wees wat nie gesondheidsorg in Suid-Afrika sal verbeter nie. Daarom hoop ek dat die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp sal verwerp en sodoende gesondheidsorg beskerm. Ek moedig ook burgers aan om saam met organisasies soos AfriForum hulle stem dik te maak teen die NGV deur hier te klik.
Zel-Marí Gelderblom is die koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ’n meestersgraad (cum laude) in Genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal.