|

Wondervrou: Die Afrikanervrou en die onderwyseres

Deur Leandie Bräsler

Nasionale Vrouedag word effens anders deur Afrikaners gevier as deur die res van Suid-Afrika wat dié dag op 9 Augustus vier ter herdenking van die nasionale optog in 1956 toe vroue beswaar gemaak het teen die paswette. Eerder word die rol van Afrikanervroue in ons geskiedenis gevier, in sowel die hede as die toekoms, waar ons die eerste vroue-optog van 1915 op 4 Augustus kan herdenk om sodoende hulde aan Afrikanervrouehelde te bring, soos Hendriena (Drienie) Joubert, die 84-jarige weduwee van kommandant-generaal Piet Joubert, wat hierdie vroueprotesoptog na die Uniegebou gelei het.

Ná die Tweede Wêreldoorlog was die hele wêreld relatief arm, maar steeds was ekonomiese en gemeenskapsontwikkeling van kritieke belang vir Afrikaners. Afrikaners was innoverend en entrepreneuries van aard en hulle het geweet dat instansies soos skole, universiteite en kerke gebou moes word om ontwikkeling in die land voort te sit. Die enigste vraag was waar die nodige kapitaal gekry of bymekaargemaak sal word om hierdie groot droom van die Afrikaner te laat realiseer. Hier het Afrikanervroue die voortou geneem met hulle inisiatief om koeksisters te bak en te verkoop, sodat hierdie groot projekte aangepak kon word. Die vroue het van regoor Suid-Afrika bymekaar gekom om deeg te knie en te vleg om koeksisters te bak en te verkoop. Hierdie vroue het die groter prentjie gesien en iets van hulself gegee om sodoende te voorsien vir ’n groter doel as net vir hulself: op hierdie manier het Afrikanervroue ’n groot deel gefinansier van wat vandag nog in Suid-Afrika van kritieke belang is.

Die plek waar ’n kind se lewe begin, is in die moederskoot – dié van ’n vrou. ’n Kind se ontdekkingsreis van die wêreld en primêre opleiding begin immers in die ouerhuis. ’n Kind leer by sy/haar ouers om te kommunikeer, hoe om sy/haar emosies uit te leef en te hanteer, en om betekenis aan gebeurtenisse te heg. Die skool dien immers as die verlengstuk – sekondêre opleiding – van dié van die ouers. Volgens professor W.A. Landman, wat baanbrekerswerk op die gebied van opvoedkunde verrig het, word kinders by die skool op ’n metodiese wyse geleer om kennis, vaardighede en insig te gebruik, asook hoe dit gebruik moet word sodat hulle dit eendag as volwassenes verder kan uitleef. Op hierdie wyse kyk ons na die ontwikkeling van die land. Onderwysers tree binne skoolverband as die bewaarders van opvoedingsverhoudinge op wat oor fisieke en geestelike vermoëns beskik. Onderwysers wat onderrig as hulle roeping uitleef, is ook pligsgetrou, toegewyd en gemotiveerd in hulle beroep en hulle sien die groter prentjie raak – hulle belê in die toekoms van ons gemeenskappe en land (Landman 1981:4). Hulle lê die fondasie vir die toekomstige dokters, prokureurs, entrepreneurs, onderwysers en soveel meer beroepe.

Die onderwyseres, as vrou, beskik oor verskeie eienskappe soos empatie, toegewendheid en meelewendheid. Haar fokus is ook gerig op die menslike, eerder as net die saaklike. Sy is sorgsaam en speel ’n belangrike rol in die lewe van die kinders wat sy onderrig. Sy het ’n goeie begrip vir kinders en sien om na dié wat dit bietjie moeiliker in die lewe het as ander. As vrou wek die onderwyseres ’n sin vir die estetiese by kinders op waar hulle meer leer om skoonheid, smaak en dit wat mooi en goed is te waardeer. Sy tree as mentor vir jong dogters op en deur haar beeld dien sy as voorbeeld vir ander dogters wat moontlik in haar klaskamer sit en daarvan droom om ook eendag so ’n goeie vrou of onderwyseres te wees soos haar juffrou. Sy is nie net in die klaskamer nie, maar sy is betrokke by die skoolkoor, sy hardloop rond tydens sportgeleenthede, sy is ’n afrigter, sy leer kinders om te redeneer en sy is ook betrokke by maatskaplike kwessies om minderbevoorregte kinders te help. Sy is ’n wondervrou!

’n Vrou is soveel meer as net vrou: sy is ’n dogter, ’n ma of ’n ouma. Sy tree in die beste belange van haar gesin op. Sy is hardwerkend en haar hart is groot. ’n Onderwyseres tree in die beste belange van ander se kinders en kleinkinders op – sy leer hierdie kinders om te droom – groot te droom! Sy leer hulle om hard te werk, om die toekomsskeppers van die land te word wat bydra tot gemeenskapsontwikkeling en ekonomiese groei. Sy is ’n rolmodel vir ons toekoms.

AfriForum wil graag elke onderwyseres bedank vir die groot rol wat hulle in die lewens van ons land se kinders speel.

Soortgelyke plasings