Wits doen weg met Afrikaans as onderwysvak
Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch
Onderwysstudente sal nie meer Afrikaans as hoofvak kan neem by die Universiteit van Witwatersand (Wits) in Johannesburg nie.
Luidens mediaberigte kan B.Ed-studente wat vanjaar in hul eerste jaar is nie meer Afrikaans as hoofvak neem nie. Tweede-, derde-, en vierdejaarstudente sal wel hul kursus kan voltooi.
Die universiteit het beperkte hulpbronne en ’n afname in belangstelling in Afrikaans as hoofvak as redes vir sy besluit uitgewys.
Die afskaffing van Afrikaans as hoofvak vir onderwysstudente het wye reaksie ontlok.
Prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het aan Forum Nuus gesê die afname in onderwysstudente wat Afrikaans as hoofvak neem, is nie deeglik ondersoek nie. Hy meen Wits is nie ’n Afrikaans-vriendelike omgewing nie en dat die aanbied van Afrikaans afgewater is en nie aangemoedig word nie.
“Dit is hartseer omdat Afrikaans ’n nasionale en wydverspreide taal is. Dit behoort nasionaal aangebied te word. Wits is bekend as ‘n pure Engelse universiteit wat ’n wye verskeidenheid van kulture huisves. As ’n nasionale instelling moet die land se nasionale tale steeds daar verteenwoordig word.”
Van der Elst sê voorts dat ekonomiese volhoubaarheid en belangstelling bloot as verskonings gebruik word om vooroordele teenoor Afrikaans te bevestig. “Hoekom nou ’n reeds gevestigde akademiese taal uitskakel? Hierdie stappe van die universiteit is misplaas.”
Die feit dat die Wits nie meer Afrikaanse onderwysstudente gaan lewer nie hou volgens Van der Elst ’n gevaar in vir Afrikaans as onderrigtaal. “Hoewel ons nie nou hoef te bekommer nie, moet ons steeds daarop fokus om moedertaalonderrig te bevorder by tersiêre instellings en skole.”
Carien Bloem, projek-koördineerder van onderwysveldtogte by AfriForum, stem saam met Van der Elst. Sy beklemtoon dat dit noodsaaklik is om onderwysers op te lei in Afrikaans omdat dit een van die enigste hoëfunksie inheemse tale in die land is.
“Die gebrek aan bemarking en aanmoediging om Afrikaans by Wits te studeer, skep die indruk dat die universiteit wil hê die taal moet ’n stille dood hier sterf.”
Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), meen solank daar ’n behoefte is om onderrig in Afrikaans te kry, is die taal nie in gevaar nie. “Daar is ’n tekort aan Afrikaanse onderwysers in provinsies soos KwaZulu-Natal en daarom is dit noodsaaklik dat onderwysers daarin opgelei word.”
Deacon meen indien finansies en ekonomiese omstandighede as redes vir die verwydering van Afrikaans aangevoer word, moet die besluit heroorweeg word en die staat ingryp.
“As daar ’n behoefte is aan enige inheemse taal moet daar moeite gedoen word om dit te bevorder ter wille van veeltaligheid in Suid-Afrika. Die verwydering van enige inheemse taal is nadelig vir skole en universiteite in die land.”
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, beskryf die optrede van Wits nie net as tragies nie, maar ook stiksienig.
“Naas Engels is Afrikaans die enigste ander hoëfunksietaal en dit word nou in effek ontken. Ek is bevrees die optrede word deur politieke korrektheid geinspireer, net soos wat die haatspraak teen wit mense op die kampus deur die universiteitsowerheid as vryheid van spraak verskoon word.”
Volgens Bailey word die beste opvoedkundige beginsels en die belange van die gemeenskap, ook die van eerstetaal-, tweedetaal- en derdetaalsprekers van Afrikaans nou opgeoffer om populiste op die kampus tevrede te stel.
“Ek skat hulle mag dalk ontken dat die besluit beïnvloed is deur bewegings teen Afrikaans op kampusse regoor die land, maar ‘n mens is nie naïef nie. Afrikaans is die derde grootste taal in die land volgens Sensussyfers van 2011. So waarom is dit in enigeen se belang om dit as opsie te verwyder?”
Bailey het voorts gesê dat ander instellings soos die Universiteit van die Wes-Kaap, wat in ‘n stadium volkome verengels het, al meer ruimte vir Afrikaans begin skep deur studente toe te laat om vrae in Afrikaans te vra en opdragte en vraestelle daarin te beantwoord.
“Dit dui op sterk leierskap en insig in gemeenskapsbehoeftes, in teenstelling met die teleurstellende optrede van Wits.”
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRR) het ook sy kommer uitgespreek oor die verskille in rassegroepe se uitslae in wiskunde in matriek. Volgens dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SAIRR, is verlede jaar se matriekuitslae ’n toonbeeld van rasgedrewe en sosiale ongelykhede in Suid-Afrika.
“Data van die Suid-Afrikaanse Opname vir 2016 toon dat daar steeds nie genoeg gedoen is om gehalte-onderrig te voorsien aan swart kinders in die land nie,” het Cronjé gesê.
Volgens Bailey is dit oorvereenvoudig om die verskille in prestasies aan ras en die vorige bedeling toe te skryf. “Dis die gevolg daarvan dat min swart kinders vir meer as een tot vier jaar onderrig in wiskunde in hul moedertaal kry. Die fondament van abstrakte begrippe in wiskunde word dus nie in hul moedertaal gelê nie.”