Witrivier-tak skenk R10 000 aan kameraprojek om gemeenskap te beveilig
Die AfriForum-tak in Witrivier het onlangs R10 000 aan die Kruger Laeveld Kamer van Koophandel en Toerisme (KLCBT) se kameraprojek geskenk om veiligheid in die gebied op te skerp. Hierdie bydrae is spesifiek daarop gemik om KLCBT se LPR-kameranetwerk uit te brei. Hierdie soort kameras is noodsaaklik vir die identifisering van verdagte voertuie en aktiwiteite. Met hierdie netwerk kan die AfriForum-buurtwag in Witrivier vinnig moontlike bedreigings uitken en doeltreffend daarop reageer. AfriForum se donasie is ’n sleutelstap om te verseker dat meer veiligheidskameras strategies in die Witrivier-omgewing opgerig word.
“AfriForum se Witrivier-tak glo daarin dat die veiligheid van ons gemeenskap ’n prioriteit moet wees. Hierdie borgskap is een van die maniere waarop die burgerregteorganisasie aktief betrokke raak en saam met ander rolspelers werk om ’n veilige en leefbare omgewing vir inwoners te skep,” sê Theo Bezuidenhout, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.
AfriForum se betrokkenheid by veiligheidsprojekte in gemeenskappe regoor die land is gerig op die bevordering van ’n veiliger Suid-Afrika. Die vennootskap met KLCBT en die implementering van gevorderde tegnologie soos LPR-kameras is een van die oplossings wat gebruik word om misdaad in die Witrivier-gebied te bekamp.
Raak vandag nog by jou naaste buurtwag betrokke deur Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, by 066 486 7609 te kontak of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.