Wie was Andries Pretorius?
Andries Pretorius is op 27 November 1798 in die Graaff-Reinet-distrik gebore. Oor die eerste sowat veertig jaar van sy lewe is min bekend, buiten dat hy op 8 November 1818 met sy eerste vrou, Christina Petronella de Wit, getroud is. Hy het in dié tyd reeds sy vaardighede as leier en militêre strateeg bewys toe hy tydens die Sesde Grensoorlog van 1834 tot 1835 ’n kommando van agthonderd burgers van Graaff-Reinet teen die Xhosas aangevoer het.
In 1837 het hy klein verkenningstogte na die binneland onderneem en met Voortrekkerleiers soos Maritz en Retief geskakel, maar hy en sy geselskap het eers op 31 Oktober 1838 die Kaapkolonie permanent verlaat om by die Groot Trek aan te sluit.
Op 22 November 1838 het hy by die Voortrekkers se hooflaer by die Klein Tugelarivier aangekom en is hier tot hoofkommandant van die ekspedisie teen Dingaan aangewys. Dié kommando het twee dae later op die veldtog vertrek waartydens die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838 sou plaasvind.
Tydens hierdie tog het hy bekend geword vir sy takt. Hy het dan ook vir Sarel Cilliers oortuig om die Gelofte namens die kommando op die vooraand van dié veldslag af te lê. Tydens dié Slag is sy roem as militêre strateeg verewig.
In sy sowat 55 lewensjare het hy vele leiersposisies beklee en ’n sleutelrol in van die belangrikste gebeure in die Voortrekker- en Afrikaners se pioniersgeskiedenis gespeel. Dit sluit in dat hy op 10 Februarie 1840 Mpande tot koning van die Zoeloes gekroon het ‒ ’n bewys van die agting wat hy ook onder ander gemeenskappe geniet het.
Verder het hy alles in die stryd gewerp om te verhoed dat die Britte Natal annekseer. Dit sluit sy rol in die Slag van Congella in. Toe dit naamlik bekend word dat die Brittanje Port Natal wil beset, is Pretorius met ’n kommando afgevaardig met die opdrag om die Britte te gaan oortuig om die gebied vreedsaam te verlaat. Alle pogings in dié verband was egter onsuksesvol. Kort na middernag op 24 Mei 1842 het die Britte by Congella ’n verrassingsaanval teen die Voortrekkers geloods. Pretorius was egter gereed hiervoor en die aanvallers is met verwoede geweervuur begroet. Een van Pretorius se kommandolede het in die geveg gesneuwel, teenoor sewentien Britte wat dood en een-en-dertig wat gewond is. ’n Verdere drie Britte het in die poging om te vlug, verdrink. Oplaas kon die Britte egter nie gekeer word nie en teen 1848 het hy en sy gesin Natal verlaat. Die ervarings met die Britte in dié tyd het hom met ’n hewige wrewel teen hulle vervul.
’n Nederlaag wat hom diep geraak het, was die Slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848. Dit was deel van die stryd om die gebied tussen die Vaal- en Oranjerivier, wat die Britte geannekseer het, se vryheid terug te wen. By Boomplaats het Pretorius se kommando van sowat 300 teen ’n Britse mag van 1 200 te staan gekom. Aan die Britse kant het twee-en-twintig soldate gesneuwel, teenoor sewe van Pretorius se manne, maar oplaas het die Britte tog daarin geslaag om hulle op die vlug te jaag.
In 1849 het hy met die skep van ’n gemeenskaplike volksraad ’n belangrike bydrae gelewer tot die totstandkoming van ’n sentrale regering noord van die Vaalrivier. Helaas is hierdie vestigingsjare deurlopend gekenmerk deur Andries Hendrik Potgieter se teenstand teen Pretorius en die broedertwis wat dit onder die pioniers tot gevolg gehad het.
Die diplomatieke hoogtepunt van Pretorius se lewe was sy aandeel in die ondertekening van die Sandrivierkonvensie op 17 Januarie 1852. Daarmee het die Britse owerheid die onafhanklikheid van die gebied noord van die Vaalrivier erken – die eerste keer sedert die aanvang van die Groot Trek dat die ideaal van ’n eie onafhanklike staat wat deur Brittanje erken word, ’n werklikheid geword het.
Pretorius is op 23 Julie 1853 aan “borswater”, die volksnaam vir pulmonale kongestie, oorlede. Hy is aanvanklik op sy plaas Grootplaats in die distrik van Pretoria begrawe, maar op 13 Mei 1891 in die Heldeakker in Pretoria herbegrawe. Sy roem leef voort as diplomaat, krygsman en Afrikanerleier wat onvermoeid staatkundige eenheid onder, en veral onafhanklikheid van die Voortrekkers bevorder het.