|

Wetsontwerp om rassisme te kriminaliseer gaan net illusie skep

Terwyl die nuwe wetsontwerp om rassisme te kriminaliseer in September in die Parlement ter tafel gelê word, is die  Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) oortuig dat dié wet nie rassisme sal keer nie, maar eerder ondergronds sal dwing.

Mienke-Mari Steytler, woordvoerder van die SAIRV, het gesê die wetsontwerp sal net ʼn illusie skep dat daar geen rassiste in die land is nie.

Volgens die SAIRV is ʼn nuwe wet wat fokus op rassisme nie nodig nie, omdat die Grondwet dit klaar duidelik stel wat haatspraak behels en crimen injuria reeds voorsiening maak vir die vervolging daarvan.

Die instituut is ook van mening dat die nuwe wetsontwerp inbraak kan maak op vryheid van spraak, wat ʼn kern van die land se demokrasie is. Die instituut meen rassisme en gewelddadige protesaksies spruit uit swak ekonomiese omstandighede, ʼn mislukte onderwysstelsel en bemagtigingsbeleide wat slegs ʼn klein groepie mense bevoordeel. Swak ekonomiese omstandighede veral lei tot frustrasie en ontevredenheid onder landsburgers.

“Rassisme is soos ’n kanker wat op vreedsame naasbestaan, wedersydse erkenning en sosiale kohesie teer. Dit moenie net beveg nie, maar ook uitgeroei word,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Hy het onlangs op die nuwe wetsontwerp gereageer en 15 redes uitgelig waarom dit nie ʼn goeie idee sal wees nie.

“Die ANC se idee dat daar strenger teen rassisme opgetree moet word, klink dus aanvanklik soos ’n goeie idee wat ondersteun behoort te word. Indien ’n mens dit egter onder die loep neem, word dit duidelik dat die ANC se plan ’n baie slegte idee is – en iets wat deur AfriForum teengestaan sal word.”

Volgens Roets stem die wetsontwerp baie ooreenstem met die vorige bedeling se Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, 1950 (Wet No 44 van 1950) – ’n wet wat in die 1970’s deur die ANC as een van die grootste redes voorgehou is waarom apartheid tot ’n misdaad teen die mensdom verklaar moet word.

Hier is die 15 redes waarom die wetsontwerp ’n baie slegte idee is:

  1. In die eerste plek het die geskiedenis wêreldwyd bewys dat meer staatsregulering gewoonlik nie ’n goeie idee is nie. Dit geld in die besonder wanneer sosiale kwessies ter sprake is.
  2. ’n Onlangse verslag deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudings (SAIRV) dui daarop dat rassisme vir Suid-Afrikaners op grondvlak nie so ’n groot krisis is soos wat die regering en sekere kommentators voorgee nie. Dié studie het bevind dat slegs 4,7% van alle Suid-Afrikaners rassisme as een van die land se grootste onopgeloste krisisse beskou. In teenstelling hiermee beskou 55,9% van Suid-Afrikaners werkloosheid as ’n ernstige, onopgeloste krisis.
  3. Rassisme is dus eerder ’n simptoom van ander, groter krisisse. Dié krisisse sluit in: misdaad; staatsverval; ekonomiese insinking; onoordeelkundige hoë staatspandering; swak politieke leierskap; en die risiko van afgradering van die land tot rommelstatus.
  4. Hierdie wetsontwerp word in ’n verkiesingsjaar gedryf. ’n Redelike persoon kan aanvaar dat die ANC hierdie projek beskou as iets wat vir sy verkiesingsveldtog van waarde gaan wees. Daar is dus ’n reusevraagteken oor die ANC se onderliggende motief met hierdie poging. ’n Partypolitieke motief sal tot inkonsekwente toepassing lei.
  5. Die ANC het bewys dat hy nie in staat is om onderskeid te tref tussen party en staat nie. Wanneer hierdie nuwe wet deur die staat toegepas word, sal dit by implikasie toegepas word deur ANC-amptenare wat ’n bepaalde politieke mandaat en agenda moet volg.
  6. Suid-Afrika is ’n plurale en diverse demokrasie (of ten minste ’n poging tot een), wat uit uiteenlopende gemeenskappe, rasse- en kultuurgroepe bestaan.
  7. Die ANC het ook herhaaldelik bewys dat hy nie in staat of bereid is om growwe rassisme in sy eie geledere aan te spreek nie.
  8. Die ANC het ook reeds sy verwronge persepsie oor minderheidsregte bekend gemaak toe president Jacob Zuma in die parlement verklaar het: “We have more rights because we are the majority. You have less rights because you are a minority. Absolutely, that is how democracy works.” As dié stelling ’n aanduiding is van hoe die ANC die stryd teen rassisme gaan benader, sal dubbele standaarde gehandhaaf word en sal ’n groter mate van grasie aan swart Suid-Afrikaners gebied word om rassisties teenoor wit mense op te tree as andersom.
  9. Tot op hede is geen konsultasie oor hierdie proses gevoer nie – ten minste nie met AfriForum nie, wat meer as 170 000 gesinne in die minderheidsgemeenskap verteenwoordig. Dit lyk dus of hierdie proses nie net polities gemotiveerd is nie, maar ook eensydig is.
  10. Die regulering van rassisme is ’n reaksionêre optrede wat duidelik daarop dui dat die politieke diskoers in die parlement besig is om te radikaliseer. Dit lyk of die ANC probeer om die EFF te “uit-EFF” en dat hierdie vir die ANC eerder ’n politieke posisioneringsoefening is as ’n poging wat met edele bedoelings aangepak word.
  11. Die mikrobestuur van sosiale kwessies is ’n vorm van totalitêre optrede wat nie met die gees van demokrasie strook nie. Dit laat gevaarlike rooi ligte vir Suid-Afrika se toekoms flikker en kan as ’n aanduiding beskou word dat Suid-Afrika ’n toekoms van beperkte vryheid betree..
  12. Haatspraak en rassediskriminasie word reeds in die Grondwet en die Gelykheidswet (PEPUDA) aangespreek. Aanhitsing tot geweld is ook reeds ’n misdaad.
  13. Indien hierdie wetsontwerp enige bydrae maak wat nie reeds deur wetgewing gedek word nie, sal dit waarskynlik wees om kommentaar te kriminaliseer wat bloot mense se gevoelens seermaak. Dit sal op ’n oortreding van ’n redelike vertolking van die Grondwet neerkom.
  14. Filosowe en politieke kommentators waarsku al lank teen die sogenaamde “demokratiese paradoks”. Samuel Huntington beskryf dit basies as die verskynsel wanneer demokratiese instellings (soos die parlement) deur ’n demokraties verkose meerderheidsparty gebruik word om ondemokratiese dade te pleeg. Hierdie wetsontwerp sal Suid-Afrika in die vlagskipvoorbeeld van die demokratiese paradoks omskep.
  15. Navorsingsorganisasies regoor die wêreld het keer op keer bevind dat kwessies soos rassisme, haatspraak en selfs aanhitsing tot volksmoord nie doeltreffend met wetgewing beveg kan word nie.

 

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings