Wenner van Entrepreneur van die Jaar-kompetisie vertel oor vindingryke reis

AfriForum Sakenetwerk het van 1 tot 3 Oktober die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangebied in samewerking met Akademia, Steyn IP, Kwikstert, Acctiva Accounting, WoLK, Lizette Volkwyn – meesterlewensafrigter, Tshukudu Surveys, Solidariteit en Maroela Media. Awie Krog, stigter en eienaar van Craft Braai, is op hierdie geleentheid as Entrepreneur van die Jaar vir 2024 gekroon.

Krog vertel dat Craft Braai noodgedwonge, of liefs te danke aan die Covid-19-tydperk ontstaan het toe afleggings aan die orde van die dag was. Die Here het die gelykenis van Johannes 21:6 op sy hart gedruk waar Jesus vir sy dissipels gesê het om hul net aan die anderkant van die skuit te gooi, want daar sal hulle vis uittrek. Die gelykenis was vir hom in daardie uitdagende tyd uiters gepas. Nie net is sy braaisakkiekonsep uit net gemaak nie, maar moes hy ook uit sy gemaksone tree en die Here vertrou om hom te herontwerp in sy vindingryke reis na ware entrepreneurskap.

Een van die finaliste, Danielle de Villiers, eienaar van The Fun Room, het met haar voorlegging oor haar onderneming die beoordelaars behoorlik beïndruk. Sy het met die Onderneming van Formaat-toekenning weggestap. Sanderien van der Walt, bestuurder  van AfriForum Sakenetwerk, sê die voorleggings was vanjaar op ’n besonderse hoë standaard, daarom is daar besluit om die toekenning Netwerker van Formaat in Onderneming van Formaat te omskep.

Die finaliste moes elkeen ’n voorlegging voorberei om aan die uitgesoekte paneel voor te lê. Die beoordelaars by vanjaar se kompetisie was Lizette Volkwyn (meesterlewensafrigter, skrywer, internasionale spreker, meester- NLP-praktisyn en -afrigter), Charl Oberholzer (’n toonaangewende Afrikanerentrepreneur en medestigter van die geskenkwinkelgroep Handelhuis, manshaarkapper Republik Barbier en die leefstylhandelsnaam Republk), Jandré de Beer (stigter van V8 Media, een van Afrika se mees ervare e-handel en digitale sakebemarkingsagentskappe), Rhona Erasmus (REALSKIN se mede-direkteur en -stigter asook eienaar van Trouvaille Boutique Dagspa), en Stephan Bredell (stigter van die Plato Coffee Group wat een van Suid-Afrika se mees toonaangewende koffiehuise is).

“Hoewel daar groot pryse op die spel is, is die kompetisie ook uniek danksy die platform wat dit aan die wenner bied. Die wenner se produk of diens word wyd op verskillende sosialemediaplatforms versprei, asook op nuusplatforms soos Maroela Media en in die Forum Tydskrif. Ons wil deur dié kompetisie plaaslike entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en harde werk is noodsaaklik om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Die finaliste in vanjaar se kompetisie het weereens bewys dat Suid-Afrikaanse en veral Afrikaanse entrepreneurs geen einde aan kreatiewe vermoëns het nie,” sê Van der Walt.

“Akademia is ’n trotse vennoot van dié Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar net nóg groter en beter word. Die kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteitshupstoot benodig en uitstekende advies van kundiges in die gebied wil ontvang. Ons sien uit om die kompetisie volgende jaar verder uit te bou en kennis met nóg entrepreneurs te maak wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak,” sê Mareli Swanepoel, projekbestuurder by Akademia.

Soortgelyke plasings