|

Waterwiel in Keimoes kry nuwe baadjie

Die AfriForum-tak in Keimoes het verlede week sy werk by die waterwiel – een van hierdie dorpie se grootste besienswaardighede – voortgesit nadat hy op ’n vorige geleentheid begin het om die area om dié wiel skoon te maak.

Die tak het 300 stene by Boetie Myburgh, ’n Keimoes-inwoner, as skenking ontvang en dié stene netjies gelê nadat die !Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit nie die stene teruggeplaas het toe die plaveisel gelig is nie.

Die waterwiel se uitlaatpyp het ’n lekkasie gehad wat die tak herstel het. Die stene langs die wiel is verwyder en netjies teruggesit om die pyp reg te maak. Verder kon AfriForum se Keimoes-tak ook die swart en geel randstene oorverf nadat die tak ’n verf-skenking van die plaaslike verkeersdepartement ontvang het. Die tak het voorheen die wit randstene oorgeverf.

Die tuin by die waterwiel, wat die tak by die munisipaliteit oorgeneem het, het ook weer aandag gekry. Van die aalwyne wat voorheen daar geplant is, is intussen gesteel. Die tuin is dus netjies skoongemaak en nuwe aalwyne is aangeplant.

Die tak het ook van die strate ingevaar en vullis opgetel wat rondgestrooi gelê het.

Die AfriForum-tak in Keimoes beplan om volgende die publieke toilette en parkie op die dorp te takel.

“Dit is vir AfriForum belangrik om belangrike besienswaardighede soos die waterwiel in Keimoes in stand te hou. Dit is ’n belangrike toeriste aantreklikheid vir die dorp se voortbestaan. Ons sal aanhou om ons kant te bring om te verhoed dat dit agteruitgaan,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Besoek www.wordlid.co.za om by dié tak betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in die gebied te maak.

Soortgelyke plasings