Watervoorsieningskrisis: Oplossings buite tradisionele munisipale raamwerk nou nodig
AfriForum benadruk dat samewerking tussen die privaat sektor en gemeenskappe nou die enigste uitweg is in die dreigende watervoorsieningskrisis waarby waterrade en munisipaliteite betrek word. Dít volg in reaksie op inligting van die ouditeur-generaal wat daarop wys dat waterrade onder ernstige druk verkeer omdat munisipaliteite nie vir hul dienste betaal nie en dit uiteindelik daartoe kan lei dat groot dele van die land se krane kan leegloop.
Munisipaliteite se skuldlas aan waterrade beloop reeds etlike miljarde rande en het ’n direkte impak op gemeenskappe se watervoorsiening. Volgens AfriForum is dit kommerwekkend dat dié finansiële wanbestuur en ondoeltreffende invordering van skuld, miljoene Suid-Afrikaners se toegang tot skoon water in die gedrang bring.
“Die gewilde oplossing onder waterrade om waterdrukvermindering toe te pas en die eindverbruiker te straf is ook nie die antwoord nie. Die eindverbruiker mag nie gestraf word omdat munisipaliteite nie hul grondwetlike pligte nakom om waterrade te betaal nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.
AfriForum glo dat die antwoord nie langer in tradisionele munisipale strukture lê nie. Die oorweldigende bewys van wanbestuur, soos in die onlangse boekjaar uitgelig, dui daarop dat burgers nie meer daarop kan staatmaak dat munisipaliteite verantwoordelik sal optree in die bestuur van watervoorsiening en finansies nie.
Dit is daarom noodsaaklik dat die privaat sektor en gemeenskappe ’n groter rol speel in die lewering van noodsaaklike dienste soos water en sanitasie. Voorbeelde van suksesvolle openbare-privaat vennootskappe (PPP’s) in die water- en sanitasiesektor is duidelike bewyse van waar die oplossing lê. Hierdie vennootskappe toon dat wanneer die privaat sektor en gemeenskappe hande vat, daar werkbare en volhoubare oplossings gevind kan word wat alle Suid-Afrikaners sal bevoordeel.
“Die skuld en waterlewering wat hier ter sprake is, is net ’n druppel in die emmer wanneer die kwessie oor instandhouding, waterverliese en besoedeling ook in ag geneem word. Dít het nog ’n reusagtige kosteimplikasie op waterlewering. Dit is tyd dat ons nou self verantwoordelikheid neem aangesien munisipaliteite nou al male sonder tal bewys het dat hulle nie oor die kapasiteit of integriteit beskik om hierdie noodsaaklike dienste te bestuur nie. AfriForum is gereed om saam met ons gemeenskappe ’n volhoubare toekoms te skep, een druppel op ’n slag,” sluit De Klerk af.
AfriForum sal voortgaan om aktief te werk aan die uitbreiding van hierdie vennootskappe en die ontwikkeling van alternatiewe oplossings om gemeenskappe se basiese reg op water te beskerm. Die organisasie sal ook druk toepas op die regering om die nodige beleidsveranderinge te implementeer wat die weg sal baan vir groter privaatsektorbetrokkenheid en gemeenskapsbeheer.