|

Watervoorsiening wurg inwoners, AfriForum tree in

AfriForum eis antwoorde van Rand Water nadat inwoners in die Govan Mbeki- munisipale gebied onder ernstige waterprobleme gebuk gaan. Gemeenskappe van Bethal, Evander, Kinross, Secunda en Trichardt moet al vir meer as ’n week met min tot geen water klaarkom.

AfriForum het op 7 Oktober in ’n brief aan Rand Water gerig nadat klagtes van die voortslepende waterkrisis ontvang is. Nog geen terugvoer is ontvang nie.

Vanaf 28 September het watervlakke in die reeds sukkelende munisipale gebied gedaal nadat Rand Water probleme by die Mapleton-pompstasie ervaar het. Nadat herstelwerk voltooi is, het die situasie egter nie genormaliseer nie. Dit het inwoners briesend gelaat, terwyl die Govan Mbeki-munisipaliteit nie eers watertenkers aan die gemeenskap beskikbaar gestel nie.

Intussen ontvang dié dorpe hoofsaaklik water van boere en inwoners met boorgate. Verskeie skole is ook in die nood weens die gebrek aan watervoorsiening en moes dringend planmaak om water te kry. Baie ondernemings se deure is gesluit en die meeste regeringsdepartemente is gesluit of werk met minimale werknemers weens die waterkrisis. Dit blyk ook dat waterpunte oorgeneem word deur sekere groeperings wat die water weer aan ander verkoop.

“Hierdie watertekort hou gesondheidsrisiko’s vir mense in, want dit kan ernstige siekte-uitbrekings veroorsaak. Verder kan swak higiëniese toestande ook tot lewens verliese lei,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Dit blyk egter daar is in hierdie stadium ’n gebrek aan Rand Water se watervoorsiening wat die eintlike rede vir die droë krane is. Die vermoede bestaan dat Rand Water waterdruk na die Govan Mbeki-munisipaliteit verminder as gevolg van wanbetaling op die massawaterrekening.

AfriForum het in 2022 reeds ’n hofbevel teen die praktyk om waterdruk te verminder bekom en kon dit in die verlede afweer. Die organisasie is reeds besig om met sy regspan oor die pad vorentoe te konsulteer. “AfriForum sal intree om gemeenskappe te beskerm as regeringsdepartemente nie interne geskille op ’n toepaslike manier kan uitsorteer nie. Dit is nie regverdig teenoor betalende inwoners om sonder water klaar te kom nie,” sluit Bekker af. 

Soortgelyke plasings