Waterbesparing se voet! Hier is dan nie water om te bespaar nie, sê AfriForum
’n Toekenning vir waterbesparing wat Rand Water Vrydag 22 November aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gemaak het, is ’n reuseflater, want dorpe in dié sukkelende munisipaliteit het nie eens water om te bespaar nie. So meen AfriForum wat die afgelope jaar ten nouste betrokke was by die ondersteuning van die Bethal-gemeenskap waar krane op dié dorp op ’n byna weeklikse basis leegloop. Die afgelope maande (Maart, Augustus, September, Oktober en steeds in November) het inwoners hier vanjaar reeds 1,8 miljoen liter water by AfriForum se noodwaterpunt op dié dorp getap vanweë die voortdurende watertekorte wat hier ondervind word.
Die munisipaliteit se sogenaamde veldtog om water te bespaar dryf inwoners om praktyke toe te pas om water spaarsamig te gebruik. Die realiteit is egter dat die inwoners nie hierdie praktyke kan toepas nie, want hulle ontvang geen water van die munisipaliteit nie. Inwoners in Bethal se krane is nou al meer as 120 dae lank leeg. Hierdie inwoners is noodgedwonge verplig om water aan te koop of om water by die gemeenskapsnoodwaterpunte te gaan haal. Bejaardes en gesinne met kinders moes in skottels bad en ook drinkwater ten duurste aankoop.
“Daar is ’n duidelike wanpersepsie oor die realiteit op grondvlak en die droomwêreld waarin staatsamptenare leef,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
Verskeie skole moes infrastruktuur soos watertenks oprig en oorweeg om boorgate te sink, anders moet die skole die leerders huis toe stuur. Boere in die gemeenskap het al telkemale tot skole se redding gekom en duisende liters water gratis na die skoolterrein aangery. Tehuise moes ook hierdie tipe beleggings aangaan in ’n tyd wat daar nie fondse vir sulke luukshede is nie.
Daagliks word video’s van Govan Mbeki-personeel ontvang wat wys dat daar nie water na reservoirs gepomp word nie. Die oorsaak hiervan is steeds onduidelik met Rand Water wat die skuld op inwoners se hoë waterverbruik pak, hoewel die waterverbruik oor Rand Water se hele netwerk, insluitend in Gauteng, hoog is. Ongeag wat die oorsaak mag wees, word inwoners van hierdie basiese mensereg ontneem.
Steun AfriForum se petisie om verdere druk toe te pas in die stryd teen swak watervoorsiening van die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit: https://www.artikels.afriforum.co.za/dry-tap-award/.