Waarom bly AfriForum gekant teen BELA?
Sedert die Nasionale Raad van Provinsies op 2 Mei 2024 weergawe D van die Wetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wetsontwerp) goedgekeur het, is daar voortdurende debatte daaroor dat AfriForum en ander lede van die Solidariteit Beweging steeds teen BELA gekant bly.
Die presiese besware van AfriForum teen artikels 4 en 5 van BELA word in hierdie artikel uiteengesit. Breedweg kan ons dit opsom deur te sê dat AfriForum se standpunt sedert 2017 nog nie verander het nie. Ons glo naamlik dat skoolgemeenskappe deur middel van hulle demokraties-verkose beheerliggame self finaal oor hulle skole se taal- en toelatingsbeleide moet kan besluit.
Die oomblik as hierdie besluit aan departementele amptenare of politieke aanstellings soos ’n provinsiale LUR oorgelaat word, kan ons verwag dat die besluite deur politieke belange en pogings om aanspreeklikheid te ontduik, geplooi kan word.
Kom ons kyk na redenasies wat tans teen AfriForum se standpunt gehoor word.
Duisende kinders word nie geplaas nie en skole weier om hulle te akkommodeer. Die departement moet kan inmeng.
Die kinders word nie geplaas nie, want die departement bou nie genoeg skole nie. Deur meer kinders in skole te plaas, kan die departement hulle verpligting ontduik, maar neem die gehalte onderrig vir almal af. Kinders word selfs in fisiese gevaar gestel wanneer dit by kwessies soos verkeer op trappe, dissiplinekwessies of verspreiding van aansteeklike siektes kom. Onderwysers in oorvol klasse ervaar erge druk en verlaat gevolglik dikwels die onderwys, terwyl die land ’n ernstige tekort aan goed-opgeleide onderwysers het. Niemand wen dus nie – meer kinders kan dalk geplaas word, maar sal uiteindelik sulke swak onderrig kry dat hulle plasing betekenisloos raak en ten koste van ander geskied.
Waarom kommer oor Afrikaans? Laat al die kinders in Engels leer.
Moedertaalonderrig is die beste onderrig vir enige kind. Dié onderrig bestaan tans in Afrikaans en hoef nie nog ontwikkel te word nie. Om leermateriaal egter op datum te hou, moet die taal in gebruik bly.
Die onderwysdepartement het al male sonder tal skole in alle provinsies probeer dwing om te verengels. Stadige verengelsing geskied as ’n skool parallelmedium onderrig aanbied – dit is gelyke bane onderrig in Engels en Afrikaans op een terrein. Vinniger verengelsing geskied as dubbelmedium onderrig aangebied word, met ander woorde Engels en Afrikaans in dieselfde klas op dieselfde tyd. Die vinnigste verengelsing vind plaas as die skool ophou Afrikaanse onderrig aanbied, en net Engels gebruik. Die spoed van die drie stelsels verskil, maar die uitkoms bly dieselfde, naamlik dat Afrikaanse onderrig doodloop. Die taal mag dalk nog as ’n vak by die skool aangebied word, maar kinders sal al hulle ander vakke in Engels moet leer.
Enkelmedium Afrikaanse skole is noodsaaklik vir die taal om voort te bestaan. Lekker gesels by die huis is geen waarborg nie, want binne twee of drie generasies het taalontwikkeling gestagneer en is dit vir die sprekers bowendien makliker om Engels te praat, soos wat hulle in al hulle ander lewensruimtes doen.
Daar kan nie van die Afrikaanse gemeenskap verwag word om moedertaalonderrig prys te gee omdat Engels ’n sterker taal is, omdat ander gemeenskappe nie so sterk oor moedertaalonderrig in hulle taal voel, of selfs omdat daar Afrikaanssprekendes is wat Engelse onderrig verkies nie. Volgens die Grondwet en internasionale deklarasies het mense die reg tot moedertaalonderrig – ongeag getalle.
Is eise vir moedertaalonderrig nie ’n teken van eng denke nie?
Nee, modertaalonderrig is ’n basiese reg wat die spreker van enige taal toekom, des te meer in een van die grootste tale op aarde wat reeds oor kurrikulums in eie taal beskik. Ons eis is ook nie eksklusief nie, maar ’n reg wat ons vir alle gemeenskappe in die land gun, nie net vir onsself nie. Sonder breër uitbreiding van moedertaalonderrig in enkelmedium instellings vir so lank as moontlik, gaan die uitvalkoers in skole en gevolglike jeugwerkloosheid op rekordhoë persentasies bly, wat almal in die land se ekonomiese en maatskaplike toekoms net verder sal laat agteruitgaan. Moedertaalonderrig is noodsaaklik en moet uitbrei.
Kinders van verskillende taalgroepe moet saam skoolgaan om mekaar te leer ken en respekteer.
Hierdie is ’n ernstige drogredenasie. Geweld ontstaan tussen gemeenskappe wanneer hulle bedreig of misken voel. Wanneer kinders van moedertaalonderrig ontneem word, ontstaan so ’n gevoel. In Suidoos-Asië word taalregte juis uitgebrei om geweldpleging tussen gemeenskappe te ontlont.
Interkulturele respek hang af van gemeenskappe se waardes, nie kontak met ander nie. As dit nie die geval was nie, het immigrasie en toerisme nie bestaan nie. Min van ons het al met mense van Sierra Leone, Guatemala of Nepal te make gehad, maar as ons hulle sou ontmoet, gaan ons hulle beslis nie sleg behandel nie, want die Bybel en ons waardes leer ons om alle mense te respekteer.
As BELA se bepalings nie uitwerk nie, beskerm die Grondwet ons.
Dit was ook die argument wat die vyf voormalige Afrikaanse universiteite se taalbeleide aanbetref het. Vandag bied net Stellenbosch en Noordwes gedeeltelik nog Afrikaanse onderrig aan en bly onder druk om dit verder af te skaal. Die hofsaak teen Unisa is deur AfriForum gewen, maar teen die tyd wat dit afgehandel was, het leermateriaal verouder en was daar nie meer Afrikaanse dosente beskikbaar om dit op te dateer nie. Ons baseer ons standpunte op konkrete nasionale en internasionale voorbeelde, nie ongegronde vrese nie.
Ons kan ook oor skole se toelatings- en taalbeleide hof toe gaan.
Ongeag wie ’n hofsaak oor ’n toelatings- of taalbebeid wen, dit kos ’n paar miljoen rand aan regskoste en as dit deur die volledige hofproses gaan (’n hoër hof, dan die Hoogste Hof van Appèl, en ten slotte die Konstitusionele Hof), neem dit sowat vyf of meer jaar. Die regskoste mag dalk met ’n kostebevel aan die Departement van Basiese Onderwys toegewys word en die skool niks kos nie, maar ons as belastingbetalers staan dan steeds in daarvoor. Dit kom nie uit die persoonlike sakke van die politici of amptenare nie, maar uit ons belastinggeld.
Die Konstitusionele Hof het klaar oor beheerliggame se magte beslis in die saak van Laerskool Rivonia.
Die uitspraak kom van 2013. Dit het nie die departement gekeer om skole te probeer dwing om meer kinders te akkommodeer as waarvoor dit gebou is nie, of Afrikaanse skole te dwing om leerders in te neem wat Engelse onderrig verlang nie. Dink byvoorbeeld aan die hofsaak van Hoërskool Overvaal (uitspraak in 2018) en briewe wat deur die Gautengse onderwysdepartement aan die einde van 2023 versprei is om skole te probeer dwing om in 2024 letterlik honderde meer kinders te akkommodeer. Die regswêreld is dinamies – regskennis en regbanke verander voortdurend. Omdat ’n uitspraak meer as ’n dekade gelede gelewer is, beteken nie dat dit vandag deurslaggewend sal wees nie.
AfriForum en ander het onlangs met die Minister van Onderwys ontmoet en sy glo daar is konsensus oor BELA bereik.
Tydens die gesprek is sy herhaaldelik deur verskeie teenwoordiges daarop gewys dat die aangepaste bewoording steeds ’n bedreiging vir Afrikaanse skole en gehalte onderrig van alle leerders inhou. Daar is beklemtoon dat ouerbeheerliggame self finaal oor skole se beleide moet kan besluit, mits hulle nie onregverdig diskriminerend optree nie. Sou hulle diskrimineer op grond van taal, ras, of watter rede ook al, bied die huidige Suid-Afrikaanse Skolewet opsies vir vinnige optrede teen sodanige beheerliggame. Daar is dus geen rede om nuwe wetgewing hieroor te skep, tensy dit is om politici se planne deur te voer nie.
BELA se weergawe D maak voorsiening vir oorlegpleging.
Die Minister se verdwaasde reaksie dat sy nie kan glo dat AfriForum en ander steeds ontevrede oor BELA is nie, bewys dat ons en die ANC-regering oorlegpleging verskillend interpreteer. Hulle voel dit is voldoende om redelik beleefd te luister, dan om te draai en wat gehoor is, blatant te ignoreer, terwyl daar met hulle oorspronklike planne voortgegaan word.
Die openbare konsultasieprosesse wat sedert 2017 oor BELA plaasvind, bewys ook dat oorlegpleging beperkte (indien enige) resultate kan hê. Met elke rondte het die publiek standpunt teen BELA ingeneem, maar die proses het voortgegaan. Tydens die besluitneming van die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Onderwys moes die DA en VF+ selfs die ANC met regstappe dreig om hoegenaamd alle openbare insette te oorweeg.
Oorlegpleging kan ook ’n mooi naam vir intimidasie wees. In BELA se weergawe D is daar dus geen gerusstelling of beskerming hierin te vinde nie.
Waarom voel AfriForum so sterk oor hierdie saak?
AfriForum se doelstellings maak dit duidelik dat ons bestaansrede die toekoms van ons kultuurgemeenskap is. As ons gemeenskap se skole bedreig word, bedreig dit ons gemeenskap se voortbestaan. Die internasionale term hiervoor is “kulturele etniese suiwering” – met ander woorde die vernietiging van ’n unieke gemeenskap deur hulle kultuur te vernietig (en nie deur geweld nie). Taal is een van die belangrikste onderdele van kultuur en BELA bedreig Afrikaanse skole sonder twyfel.
Slotsom
Skoolgemeenskappe moet self finaal deur middel van ouerbeheerliggame oor skole se taal- en toelatingsbeleid kan besluit. Solank hierdie regte bedreig word, sal AfriForum plaaslik of internasionaal alles moontlik binne die raamwerk van die wet doen om BELA teen te staan.