|

Waar staan ons nou met die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (alias BELA)?

In 2017 het die proses begin om ’n hersiene onderwyswet aan die publiek voor te hou vir kommentaar. Van die begin af het dit skerp kritiek ontlok, omdat dit benewens praktiese aanpassings, ook duidelike aanslae op onder meer skoolgemeenskappe se inspraak in hulle kinders se onderrig en enkelmedium Afrikaanse onderrig bevat.

Na die oorweldigende kritiek van 2017, is die wetsontwerp hersien en in 2022 weer vir openbare kommentaar gepubliseer. Skriftelike kommentaar en parlementêre voorleggings deur aangewese organisasies het gevolg. In 2023 is drie openbare raadplegingsessies ook per provinsie aangebied, om aan lede van die publiek wat nie tydens die vorige rondtes kommentaar kon lewer nie, of nie wou skriftelike insette gee nie, of aanvullende menings wou lug, nog ’n kans te gee om kommentaar te lewer. Die proses het die afgelope Sondag ten einde geloop met die laaste byeenkoms in die Oos-Kaap.

Wat nou volg, is dat die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys nou die terugvoer wat die afgelope maande van letterlik derduisende mense en organisasies ontvang is, moet verwerk. In die lig van die fel kritiek wat by elke provinsiale raadplegingsessies geopper is, is dit duidelik dat die wetsontwerp steeds hersiening benodig. Dit is dus onwaarskynlik dat dit in die huidige vorm aan die parlement voorgelê sal word.

Dit is sonder twyfel ’n gevaarlike en ondeurdagte stuk wetgewing, soos netjies deur vele kenners uitgewys is.

Ouers en onderwysers hoef net enige sosiale- of ander mediaplatform van enige organisasie wat gehalte Afrikaanse onderrig voorstaan, te besoek om te weet wat die gevare is wat dit inhou. Daar sal hulle ook kan sien wat reeds gedoen is om dit teen te staan. In AfriForum se geval is petisies geskep en ingedien, ’n senior regsmening is ingewin en indien die wetsontwerp in die huidige formaat aanvaar word, is ons ook op regsaksie daarteen voorberei. Dit geld ook vir vele ander organisasies.

’n Kommerwekkende verskynsel wat egter die afgelope paar weke kop uitgesteek het, is die verspreiding van vals nuus oor die wetsontwerp. Dit jaag goedgelowige mense op hol met bewerings waarin geen waarheid steek nie.

Een van die bewerings is byvoorbeeld dat die doel van die wetsontwerp onder meer is om te sorg dat kinders vanaf 12 aborsies sal kan kry sonder om hulle ouers te raadpleeg. Dis suiwer snert. Die skolewet bestuur kinders se onderrigsake, nie hulle welstand buite skole nie. Die reg tot aborsies word omskryf deur die Wet op Seksuele Misdrywe (Wet 23 van 1957) en daarvolgens mag ’n kind onder 18 nie ’n aborsie kry sonder die toestemming van ’n ouer of wettig aangewese voog nie. Die BELA-wetsontwerp bevat geen verwysing na aborsies of ander mediese prosedures nie.

Hierdie is dus leuens wat opgemaak is om mense te mislei en die aandag van geldige kritiek teen die wet af te lei.

Daar is nog vele ander vals gerugte, soos dat die wetsontwerp bepaal dat skole met minder as ’n sekere aantal leerders summier gesluit kan word, of dat dit voorskrifte oor seksonderrig op skool bevat. Skolesluitings en die aanbied van seksonderrig is netelige kwessies, maar dit word deur ander wetgewing en regulasies bestuur.

Soos met alle nuus, is dit ouers se plig om seker te maak of nuus betroubaar is, of nie. As hulle ’n bron wantrou, kan hulle die inligting teen ander bronne toets. Hulle is altyd welkom om by organisasies soos AfriForum, Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum, of ander onderwysinstellings aan te klop om vas te stel of gerugte waar is. Al hierdie instellings en nuusbronne soos Maroela Media het ook vele platforms waar inligting oor wetgewing en aksies daarteen of daarvoor beskikbaar is. ’n Mens kan nie op grond van een boodskap van ’n onseker oorsprong paniekerig raak nie. Dit maak bloot van jou die slaaf van ’n onbekende meester wat jou geregverdigde verontwaardiging kan misbruik vir ’n agenda waarvan jy nie eens weet nie, soos om te sê dat die teenstand teen die BELA-wetsontwerp op misverstande berus.

Sou nog ’n geleentheid vir openbare kommentaar opduik, sal AfriForum en ander instellings ons beslis weer ten sterkste teen die huidige inhoud van die wetsontwerp uitspreek ‒ op grond van feite. Ons hoop dat regsaksie onnodig sal wees, maar is ook daarvoor gereed sodat ons kan verseker dat ouers, hulle kinders en die breër skoolgemeenskap se regte beskerm word.

Soortgelyke plasings