Vuurwapenamnestie: Wie, wat, waar, wanneer en waarom
Deur Marnus Kamfer
Vuurwapenamnestie. Die woord wat ’n see van vraagtekens en ’n groot herrie onder vuurwapeneienaars ontketen het.
Hoewel Polisieminister Bheki Cele reeds aansoek vir ’n vuurwapenamnestietydperk gedoen het – ná die vorige tydperk op 31 Mei 2020 verstryk het – is daar baie vrae waaroor mense steeds kopkrap.
Waarom kan die polisie nie net die bestaande amnestietydperk verleng nie? Hoekom moet ek my vuurwapen ingee as ek in elk geval weer aansoek gaan doen vir ’n nuwe lisensie vir dieselfde vuurwapen? Wat word van die vuurwapen wat ek nie meer wil hê nie en dan by die polisie ingee? Hoekom vat die proses so lank?
Al hierdie vrae word in die Wet op Beheer van Vuurwapens, No 60 van 2000, beantwoord. Artikel 139 van die wet bepaal die proses wat gevolg moet word om vuurwapenamnestie daar te stel, wie daarvoor verantwoordelik is en die voorwaardes wat aan die sodanige amnestie gekoppel is.
Artikel 139(1) bepaal dat ’n amnestie by kennisgewing in die Staatskoerant verklaar moet word. Dit mag ook net gebeur indien die amnestie tot gevolg sal hê dat die hoeveelheid vuurwapens in omloop in onwettige besit verminder sal word, en indien dit in openbare belang sal wees om die amnestie af te kondig. Artikel 139(2) meld dat die kennisgewing in die Staatskoerant om die amnestie te verklaar, slegs geldig sal wees indien dit deur die parlement goedgekeur is. Die gemelde kennisgewing moet ook die tydperk van die amnestie en die voorwaardes waarop amnestie verleen kan word, uiteensit.
Om die parlement se goedkeuring te kry moet die aansoek en die toepaslike gepaardgaande dokumentasie aan die Speaker van die Nasionale Vergadering en aan die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies gerig word. Die tersaaklike portefeuljekomitees moet ook eers geraadpleeg word alvorens dit na die Nasionale Raad van Provinsies en uiteindelik die Nasionale Vergadering vir goedkeuring verwys kan word. Die Minister van Polisie kan dus nie op eie stoom bloot ’n amnestietydperk instel of verleng nie.
Artikel 139(3) lui dat geen persoon wat van die amnestie gebruik maak, vervolg mag word as gevolg van die feit dat hy/sy ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy/haar besit gehad het nie.
Artikel 139(4) bied voorts aan die persoon wat ’n vuurwapen gedurende die amnestietydperk ingee, die geleentheid om vir ’n lisensie vir dié vuurwapen aansoek te doen. Indien die aansoek toegestaan word, kan die persoon die vuurwapen weer by die polisie gaan afhaal. Dit sal raadsaam wees om, indien daar op dié wyse vir ’n vuurwapenlisensie aansoek gedoen word, van ’n deskundige gebruik te maak om toe te sien dat die motivering wat die aansoek moet vergesel, alle nodige inligting en bewyse bevat, wat die kans dat sodanige aansoek slaag, aansienlik sal verbeter.
Dié deskundiges het meestal soveel vertroue in hulle vermoë en ervaring dat hulle selfs sal onderneem om die appèlprosedure namens die applikant te hanteer indien die aansoek nié slaag nie.
Artikel 139(5) bepaal dat die Registrateur (wat vir doeleindes van die wet die Nasionale Polisiekommissaris is ingevolge artikel 123 van die wet) dan van die vuurwapens wat ingehandig is, en waarvoor daar nie vir ’n lisensie aansoek gedoen is nie, moet ontslae raak soos voorgeskryf. Die proses wat gewoonlik gevolg word, word in artikel 136 van die wet voorgeskryf. Die Registrateur sal by kennisgewing in die Staatskoerant aandui dat hy/sy beoog om vuurwapens en ammunisie wat ingehandig is, te vernietig.
Geen vergoeding sal aan die voormalige eienaar van die vuurwapen betaal word nie. Indien ’n persoon van mening is dat hy geldige redes het om die vuurwapen terug te eis, moet hy/sy sodanige redes binne 21 dae na die plasing in die Staatskoerant aan die Registrateur stuur, wat dit dan moet oorweeg. Indien die Registrateur tevrede is dat die redes voldoende is, sal hy/sy die vuurwapen aan die persoon terugbesorg. Indien nie, sal hy/sy voortgaan om die vuurwapen te vernietig.
As gevolg van die feit dat daar hangende litigasie en onsekerheid bestaan rondom die SAPD, wat tans weier om vervalde vuurwapenlisensies te hernu, blyk die amnestieproses vir baie eienaars van vervalde vuurwapenlisensies ’n aanloklike opsie te wees aangesien sodanige eienaars gedurende die amnestietydperk van voor af vir die betrokke vuurwapen se lisensie aansoek kan doen. Indien dié aansoek suksesvol is, sal hulle weer in besit wees van ’n lisensie wat vir etlike jare geldig is.
Die Polisieminister het vir ’n verdere amnestietydperk aansoek gedoen, nadat die laaste tydperk, wat op 27 Oktober 2019 afgekondig is en van 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 geldig was, tot ’n einde gekom het. Dié proses vorder fluks en sal daar na alle waarskynlikheid eersdaags weer ’n amnestietydperk wees.