| |

Vullisterreinoudits: Mpumalanga toon ernstige munisipale verval

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vanjaar 161 vullisterreine landwyd geoudit as deel van hulle nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal.

Slegs een uit die 22 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in Mpumalanga:

Volgens Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, is die meeste vullisterreine in Mpumalanga in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die finansiële probleme wat munisipaliteite in die gesig staar as gevolg van wanbesteding van fondse en korrupsie.”

“Die grootste probleem wat AfriForum-takke in Mpumalanga tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat die Bethal-stortingsterrein al groter word en reeds tot teenaan die R38, die hoofpad tussen Bethal en Standerton, strek. Daar is geen heinings nie en voertuie op dié pad word deur herwinners geteiken. Dit is ’n groot bron van kommer aangesien die munisipale amptenare van die Govan Mbeki Munisipaliteit nie tot verantwoording geroep word nie.

“Daar is ook ernstige veiligheidskwessies wat kop uitsteek en mense dwing om van vullis op ’n onwettig wyse ontslae te raak. Herwinners op vullisterreine  teiken en beskadig byvoorbeeld voertuie en in sekere gevalle is mense selfs al op die terreine aangerand. In areas waar die vullisterreine omhein is, is die heinings stukkend. Sekuriteitswagte, indien daar is, het geen verweer teen die onwettige skare nie,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

Hierdie situasie kan daaraan toegeskryf word dat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleide, norme en standaarde vas te stel, maar hulle het geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie. Die provinsie rapporteer net aan die provinsiale LUR, nie aan die minister nie, en Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die DBVO kommunikeer nie met mekaar nie, wat nog ʼn uitdaging meebring.

Klik hier en lees die volledige verslag.

Soortgelyke plasings