Vullisterreinoudit: Slegs ses vullisterreine in Noordwes voldoen aan nasionale standaarde
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vanjaar 161 vullisterreine landwyd geoudit as deel van hulle nasionale projek om die toestand van vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal.
Slegs ses uit die 23 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, het aan die nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis nr. 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.
Só vergelyk die vullisterreine in Noordwes:
Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n haglike toestand. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan munisipaliteite wat onbevoeg en onkundig is oor die bestuur van ’n vullisterrein. Op verskeie vullisterreine is daar mense woonagtig op die terrein en afval materiaal word ook gestrooi op die terreine. AfriForum sal aanhou druk uitoefen op munisipaliteite om te verseker die terreine voldoen aan die nodige vereistes.”
“Die algemeenste probleme wat AfriForum se Mooirivier-streek wat Klerksdorp, Stilfontein en Potchefstroom insluit, tydens hierdie oudit opgemerk het, is dat daar totale verval by Matlosana se vullisterreine is. Daar woon mense en dit is ook baie gevaarlik, aangesien die zama zama’s ook daar funksioneer. Dit is ’n groot bron tot kommer aangesien die munisipale amptenare nie tot verantwoording geroep word deur ’n hoёr gesag nie. In Potchefstroom, waar die vullisterrein deur ’n privaatkontrakteur beheer word, lyk dit baie goed want die regte prosedure word daagliks gevolg,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.
Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is duidelik dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.
Hierdie situasie kan toegeskryf word aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing wat deur drie verskillende regeringsfere beheer word. Die nasionale departement het slegs bevoegdheid om op nasionale vlak wette, beleide, norme en standaarde vas te stel, maar hulle het geen bevoegdheid op provinsiale of munisipale vlak nie. Die provinsie rapporteer aan die provinsiale LUR, nie aan die minister nie. Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (CoGTA) en die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing kommunikeer nie met mekaar nie en bring dus nóg ’n uitdaging mee.
Lees die volledige verslag hier.