Vullisterreinoudit: Gauteng-vullisterreine vaar veel beter as res van die land
Terwyl die meerderheid van provinsies wie se vullisterreine deur AfriForum geoudit is slegter gevaar het as in vorige jare, is Gauteng die enigste provinsie wie se vullisterreine ’n noemenswaardige verbetering in 2024 getoon het. Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het.
In Gauteng is ’n totaal van 22 munisipale en privaat vullisterreine besoek. Hiervan is 16 formeel geoudit, terwyl vyf terreine gesluit is, maar nie gerehabiliteer is nie. Die enigste terrein wat voldoende gerehabiliteer is, is die Onderstepoort-vullisterrein.
Altesaam vyf uit die 14 munisipale vullisterreine wat in Gauteng geoudit is, het aan die minimum wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen en albei privaat vullisterreine het die oudit met lof geslaag. Dié sewe vullisterreine toon ’n noemenswaardige verbetering teenoor die drie vullisterreine (waarvan twee private vullisterreine is) wat in 2023 die oudit kon slaag.
Altesaam 13 van die 16 vullisterreine wat geoudit is, se standaarde het boonop aansienlik verbeter in vergelyking met verlede jaar. Die vullisterrein in Randfontein het byvoorbeeld in vorige jare aan 4% (2022) en 16% (2023) van die ouditvereistes voldoen, maar vanjaar verbeter tot 64%.
Só vergelyk die vullisterreine in Gauteng:
Volgens Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, is dit bemoedigend om te sien dat meeste vullisterreine in Gauteng hul standaarde verbeter in vergelyking met die res van die land. AfriForum het landwyd 189 vullisterreine geoudit om die huidige toestand van munisipale en private vullisterreine in Suid-Afrika te bepaal. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die land kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie.
“’n Algemene probleem wat AfriForum egter tydens die oudit in Gauteng opgemerk het, is dat daar ’n beperkte hoeveelheid oorblywende lugspasie op Gauteng se vullisterreine is en dat daar feitlik geen vooruitsigte of geskikte liggings vir nuwe terreine is nie. “Dis ’n groot bron van kommer omrede inwoners uiteindelik met die probleem opgeskeep gaan sit en ten duurste van private vullisverwyderaars – met hul eie vullisterreine – se dienste sal van gebruik moet maak omdat die probleem nie aangepak word nie,” sê Steinberg.
AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO), om die vullisterreinouditverslag se bevindings met hom te deel. AfriForum is van mening dat Suid-Afrikaners die reg op ’n skoon en gesonde omgewing het, daarom sal die DBVO dringend moet optree om ’n volslae krisis by vullisterreine regoor die land te keer.