|

#VulDieGat word #VulDieREUSEGat op Piet Retief

AfriForum se suksesvolle #VulDieGat-slaggatprojek wat gedurende Julie aangepak is, het ook sukses op Piet Retief in die suide van Mpumalanga behaal. Hier het die plaaslike tak egter die ekstra myl gestap en ’n reusagtige slaggat op ’n besige kruising, op die hoek van Von Brandis- en Draadstraat, gevul. Op dié dorp kan die projek nou as’t ware as die #VulDieREUSEGat bekendstaan.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, het die reuseslaggat motoriste op die dorp al raadop gehad en die vrees laat ontstaan dat voertuie ernstige skade kan opdoen as motoriste dit deur dié gat sou waag. “Die slaggat het ontstaan weens swak onderhoud en waar daar oorspronklik ’n aantal kleiner slaggate was, het dit mettertyd omgeskakel in een groot gat. Aangesien dit in een van die besigste kruisings in die dorp geleë is, het die Piet Retief-tak besluit om hier in te gryp en die uiters gevaarlike slaggat te herstel as deel van die #VulDieGat-projek,” verduidelik Bekker.

Die projek het in Julie afgeskop en AfriForum-takke oor die hele land heen het reeds ingespring om die mikpunt vir die herstel van slaggate ter waarde van R1 miljoen te verwesentlik. Dié mylpaal is teen die einde van Julie verbygesteek, met takke wat reeds meer as R1,5 miljoen aan die herstel van slaggate bestee het. Enkele takke, wat onder meer weens weersomstandighede, nog nie hul deelname aan die projek kon afhandel nie, sal in die komende week of twee nog meer slaggate herstel en dorpe waar AfriForum-takke geleë is, nog ’n tree nader aan slaggatvrye bestemmings bring.

Vir die herstel van die moeder van slaggate op Piet Retief, het dié plaaslike tak ’n totaal van 220 sakkies teer, teen ’n koste van R60 per sak, ingespan. Dit bring die totale koste vir die herstel van hierdie enkele slaggat op minstens R13 200 te staan.

AfriForum se Piet Retief-buurtwag het intussen ook weer op 26 Julie sy maandelikse massapatrollie aangepak. Die doel van dié patrollie is om misdadigheid deur middel van sigbare patrollies te voorkom. ’n Totaal van 19 buurtwaglede in 12 voertuie het aan dié patrollie deelgeneem wat in samewerking met die privaatsekuriteitsmaatskappy ACSU Piet Retief onderneem is.

Jan Botha, voorsitter van AfriForum se Piet Retief-tak, benadruk dat aksies, soos die buurtwag se gereelde patrollies en die tak se deelname aan die #VulDieGat-projek, tekenend van inwoners se verbintenis tot die opbou van Piet Retief is. “Ons sal aanhou om vir die dorp te baklei, want ons kan eenvoudig nie bekostig dat dinge verder agteruitgaan nie,” sluit hy af.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Piet Retief-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings