|

#VulDieGat: Slaggate in Bethlehem met 7 ton teer herstel

Die AfriForum-tak in Bethlehem het in Julie 7,7 ton teer gebruik om slaggate in die dorp te herstel. Slaggate is in Baxterstraat, Cambridgestraat, Du Plessisstraat en Swanstraat herstel. Die oppervlakte van al die slaggate wat herstel is, is 154 vierkante meter met ’n waarde van R30 800.

Hierdie jaarlikse nasionale projek, waartydens die organisasie in Julie poog om slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel, is in samewerking met Bituguard aangepak. AfriForum-takke in die sentraalstreek, waaronder die Bethlehem-tak val, het in Julie sover 48,35 ton teer gebruik om 818 vierkante meter se slaggate, oftewel meer as 210 slaggate, teen ’n koste van R171 349 te herstel.

“Die herstel van slaggate is ’n noodsaaklike stap vir die bevordering van verkeersveiligheid en beter verkeersvloei in die dorp. Hierdie projek lê nie net klem op die opknapping van bestaande paaie nie, maar ook op die voorkoming van verdere skade aan die infrastruktuur. Ons vertrou daarop dat hierdie inisiatief tot ’n verbeterde reiservaring vir alle inwoners en besoekers van Bethlehem sal lei,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder van die Hoogland.

Vir verdere navrae oor hierdie inisiatief of toekomstige projekte, kontak Ikking by 066 486 7612 of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings