|

#VulDieGat: Port Elizabeth-tak speel klaar met meer as ’n dosyn slaggate in Sherwood

Dertien slaggate wat motoriste in Sherwood al ’n geruime tyd lank talle hoofbrekens besorg het, is nou iets van die verlede. Dít is danksy AfriForum se Port Elizabeth-tak en Walker Drive-buurtwag se deelname aan dié burgerregteorganisasie se nasionale #VulDieGat-projek wat gedurende Julie by takke landwyd aangepak word. AfriForum-takke oor die hele land heen is vandeesmaand hard aan die werk om met vanjaar se projek slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel.

Hierdie herstelwerk in die Nelson Mandelabaai-metro (NMB) kom te midde van toenemende kommer uit verskeie oorde rakende die onvoldoende instandhouding van infrastruktuur in dié metro. Ten spyte van ’n begroting van meer as R106 miljoen vir instandhouding van paaie in NMB wat vir die 2024/2025-finansiële jaar geoormerk is, blyk dit dat herstelwerk aan die stad se padnetwerk telkens aan die agterspeen suig.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se streekshoof vir die Suidstreek (waaronder die Oos-Kaap ressorteer), is dit nie dat instandhouding van paaie in die Baai glad nie gebeur nie. “Die traagheid waarmee die takeling van instandhouding van dié kritieke infrastruktuur egter aangepak word, veroorsaak ernstige uitdagings vir motoriste in die metro. Die noodsaaklikheid van ’n goeie padnetwerk wat instandgehou word, kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit dra direk by tot ekonomiese groei en werkskepping – aspekte waaraan die Oos-Kaap in die besonder veral te kort skiet en dringend aan moet aandag skenk,” benadruk De Jager.

Die Port Elizabeth-tak en Walker Drive-buurtwag het hul #VulDieGat-aksie op 20 Julie aangepak en sowat 1,5 ton teer vir die herstelwerk van slaggate in Montrose- en Keistraat en Walkerrylaan aangewend.

“Die gemeenskap het waarlik saamgespan om ’n sukses van dié aksie te maak. Nie net het AfriForum-taklede en -buurtwaglede self hande vuil gemaak om slaggate te vul en verkeer te reguleer nie, maar uit die sakesektor het Titan Plant Hire ook ’n belangrike bydrae gemaak met die vervoer van die teer,” verduidelik De Jager.

Die Port Elizabeth-tak beplan intussen om eersdaags die herstel van nóg slaggate in dié metro te takel en sodoende verdere verligting vir motoriste te bring.

“Ons is hard aan die werk om die dorp op te kikker. Talle projekte lê nog in die vooruitsig en ons beoog om alles vanaf skoonmaakaksies tot slaggatherstelwerk te pak. Met projekte soos dié sal ons as gemeenskap kan help toesien dat verdere verval in die stad gestop word. Ons sal nie ons buurte versaak nie,” sê Hannes Oosthuizen, veiligheidsvoortsitter en projekleier van AfriForum se Port Elizabeth-tak.

Soortgelyke plasings