|

#VulDieGat: Poenstraat ondergaan gedaanteverwisseling ná AfriForum ingryp

AfriForum se Lydenburg-tak in Mashishing het R10 000 aan die Lydenburg/Mashishing-sakekamer vir die herstel van Poenstraat geskenk. Hierdie straat, wat uit hordes slaggate bestaan, het ná jare se swak instandhouding byna onbegaanbaar geraak vir motoriste.

Die gedeelte van die pad wat herstel is, is sowat 60 meter lank. ’n Kontrakteur is aangestel om die arbeid te verrig. Sowat 250 sakkies teer, oftewel nagenoeg 6 ton, is gebruik.

Hierdie finansiële bydrae  aan die sakekamer vorm deel van AfriForum se nasionale projek in Julie waartydens die organisasie poog om slaggate ter waarde van R1 miljoen oor die land heen te herstel. Van Januarie tot Julie vanjaar het die takke in die noordstreek, waarvan die Lydenburg-tak deel is, slaggate ter waarde van R230 850 herstel met 64,13 ton teer, oftewel 2 565 sakkies teer.

“Ons is verheug om hierdie bydrae tot die herstel van Poenstraat te kon maak. Dit is vir ons van kardinale belang om ons gemeenskap te ondersteun en tot die verbetering van ons dorp se infrastruktuur by te dra,” sêErich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak.

AfriForum se Lydenburg-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en tot die voltooiing van die slaggatprojek by te dra. Nog R19 000 is nodig om die projek suksesvol af te handel.

Vir bydraes of om betrokke te raak by AfriForum se Lydenburg-tak kontak Venter by 082 904 8587. Kontak die Lydenburg/Mashishing-sakekamer by 063 396 3075 of admin@lydenburgbusiness.co.za.

AfriForum bedank Laerskool Lydenburg, die Lydenburg/Mashishing-sakekamer, Terra Events en die gemeenskap vir hul samewerking en verbintenis tot hierdie projek.

Soortgelyke plasings