#VulDieGat: Oudtshoorn-tak herstel strook slaggate voor skool
Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het die afgelope naweek sy eerste #VulDieGat-projek aangepak deur ’n strook pad – wat sleg onderhou is – en ander slaggate voor Langenhoven Gimnasium met teer te herstel. Die tak het altesaam 3,2 ton teer gebruik om ’n oppervlak van 191 m² op te vul. Die teer is ook geseël om te verseker dat dit nie weer kraak of verbrokkel nie. Die slaggate op hierdie pad is voor die ingang van die skool en het ernstige uitdagings vir motoriste gebied wat daagliks van die pad gebruik maak.
“Die slaggate en krake in die pad het ontstaan omdat dit nie behoorlik onderhou is nie. Talle kleiner slaggate het ook mettertyd in ’n reusegat ontaard. Omdat dit een van die besigste strate op die dorp is, was dit noodsaaklik vir die Oudtshoorn-tak om hier in te gryp en die gevaarlike slaggate te herstel,” verduidelik Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Die Oudtshoorn-tak beplan om nog vele #VulDieGat-projekte aan te pak en saam met die gemeenskap te werk om van al die slaggate ontslae te raak. AfriForum het reeds landwyd slaggate ter waarde van meer as R1,4 miljoen gevul deur bykans 400 000 ton teer (oftewel 16 000 sakke teer) te gebruik om dit te doen.
Raak vandag nog by AfriForum se Oudtshoorn-tak betrokke deur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za te stuur of Erasmus by 081 216 9602 te skakel.