#VulDieGat: AfriForum se nuwe kompakteerder pak Machadodorp se padoppervlak
AfriForum se Machadodorp-tak het onlangs ’n nuwe kompakteerder aangekoop sodat hy die padoppervlak van hierdie dorp nóg vinniger gelyk kan maak. Die tak het reeds sowat 20 slaggate herstel en beplan om nog 15 slaggate op te vul met die 500 kg teer en 25 liter S60 Bitumen wat onlangs gekoop is. Hierdie aankope vorm deel van AfriForum se landwye projek om slaggate ter waarde van R1 miljoen te herstel. Dié doelwit is reeds oorskry, maar die Machadodorp-tak gaan voortgaan om ’n positiewe impak op die gemeenskap te maak deur een slaggat op ’n slag te takel.
“AfriForum kan nie toekyk hoe die paaie in Machadodorp agteruitgaan sonder om iets te doen om die probleem die hoof te bied nie. As dié dorp se AfriForum-tak fokus ons daarop om dinge self gedoen te kry, aangesien die plaaslike munisipaliteit nie verantwoordelikheid daarvoor sal neem nie,” sê Henrico Duvenhage, voorsitter van AfriForum se Machadodorp-tak.
“Die tak is opgewonde oor die nuwe toerusting en ons vertrou dat hierdie aankope ons sal toelaat om slaggate vinniger en meer doeltreffend te herstel, wat uiteindelik die lewensgehalte van ons inwoners sal verbeter,” voeg hy by.
AfriForum se Machadodorp-tak moedig die gemeenskap aan om kragte saam met hom te snoer om Machadodorp se paaie veiliger te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.