|

Vryburg-tak laat geen gras onder sy voete groei

Die AfriForum-tak in Vryburg het vroeër vandeesweek, met die aanvang van lente, hoë gras op leë erwe gesny, bome gesnoei en selfs die Groot Trek-monument buite die dorp skoongemaak.

Die tak het eers die gras om die Groot Trek-monument gesny en al die vullis verwyder wat om die monument gestrooi was. Hierdie monument is in 1938 met die 100-jarige herdenking van die Groot Trek langs die hoofstraat in Laingsburg opgerig. Die monument loop gereeld deur onder vandalisme, maar word tesame met die konsentrasiekamp-begraafplaas maandeliks deur AfriForum instandgehou.

“Die Groot Trek-monument word gereeld onderhou sodat die inwoners van die dorp trots kan wees op hul Afrikaner-erfenis. Die burgerregteorganisasie sal voortgaan om hierdie monument te verfraai en teen enige verdere verval te beskerm,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die tak het ook onlangs vier leë erwe buite die dorp se gras gesny, bome gesnoei en vullis verwyder. Die hoë gras wat op ’n veld 2 hektaar groot groei is ook gesny om motoriste se sigbaarheid op die pad te verbeter.

“AfriForum se Vryburg-tak maak maandeliks punte in dié dorp skoon om ’n vry, veilige en voorspoedige omgewing vir almal te kweek. Die tak sal voortgaan om projekte aan te pak wat tot voordeel van die gemeenskap is,” sê Nel.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Vryburg-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings