Vroueslaner Bizos hoort agter tralies
Tronkstraf is die enigste gepaste straf vir ’n meedoënlose vroueslaner wat sy slagoffer uitgetart het en toe die hof probeer oortuig het dat hý in werklikheid die slagoffer is. Dít is die argument wat advokaat Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, vandag in die Johannesburgse landdroshof aangevoer het in die saak teen Alexis Bizos, seun van die ontslape struggle-veteraan George Bizos. Alexis Bizos is in Julie verlede jaar skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer vir die 2015-aanval op sy destydse vrou, Monique van Oosterhout. Die aanval het haar met ses gebreekte ribbes gelaat.
Nel het in 2018 aangekondig dat die eenheid die saak privaat gaan vervolg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om Bizos te vervolg. Die verhoor het uiteindelik in Januarie 2020 begin. Die skuldigbevinding was ’n beduidende oorwinning in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en selektiewe vervolging.
Nel het Bizos vandag beskryf as ’n “boelie met geld” en ’n “vroueslaner” wat die eerbiedwaardigheid geskend het van die huis, wat – soos in die meeste gevalle van geslagsgebaseerde geweld – ’n misdaadtoneel geword het. Die hof het voorheen bevind dat Bizos ’n ontwykende getuie was wat sy getuienis aangepas het.
Nel het aangevoer dat die regstelsel Van Oosterhout gefaal het. “Ondanks die lippediens wat gelewer is aan die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en strenger wetgewing om hierdie maatskaplike onheil te beveg, en selfs ’n jaarlikse tydperk van optrede en besinning oor geslagsgebaseerde geweld, het die strafregstelsel slagoffers in die algemeen, en hierdie slagoffer in die besonder, in die steek gelaat. Sy moes haar tot privaat vervolging wend om geregtigheid te kry.”
Nel het beklemtoon dat die vonnis die publiek se vertroue in die regstelsel moet herstel. “Geweld wat teen die kwesbaarstes in die samelewing gepleeg word, duur onverpoosd voort, hetsy omdat die beskuldigdes gewoond geraak het aan wetstoepassing en die NVG se onwilligheid en versuim om hierdie sake te hanteer, en/of die onvanpaste vonnisse wat opgelê word aan die mans wat aan hierdie gruwelike misdade skuldig bevind is.”
Nel het aan die hof gesê dat Bizos se gebrek aan berou swaar straf vereis. “’n Boete sal ’n lotery vir aanranding skep. Hoeveel ribbes vir ’n R10 000 boete? Hoeveel sal dit my kos om my vrou wat my tyd mors, stil te maak? In hierdie geval sal ’n opgeskorte vonnis skokkend onvanpas wees en die belange van die beskuldigde bo dié van die slagoffer en die samelewing verhef.”
Nel voer aan dat gevangenisstraf die enigste behoorlike vonnis is om die hof se afkeuring aan die gemeenskap te weerspieël van ’n man wat sy kwesbare vrou in die privaatheid van haar huis aanrand het en hoegenaamd geen berou toon nie.
Dekfoto: Advokate Gerrie Nel en Phyllis Vorster (regs), van AfriForum se Privaatvervolgingseenheid, by Monique van Oosterhout.