|

Voormalige KSR-lid vertel van rasseherrie op Potch-kampus

’n Groot herrie het in Februarie by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus (NWU) ontstaan toe eerstejaarstudente na bewering op grond van ras by die verwelkomingseremonie uitgesluit is. Beàtha Groenewald, wat toe die sekretaris van die kampusstudenteraad (KSR) was, het dié besluit bevraagteken en is uiteindelik onregmatig afgedank omdat sy volgens die voorsitter van die KSR inligting uitgelek het en nie haar pligte as KSR-lid nagekom het nie.

AfriForum Jeug het haar met regshulp ondersteun en haar gehelp om haar posisie op die KSR terug te kry. Groenewald het egter kort ná afloop van haar heraanstelling bedank nadat sy verder geboelie is. Sy het haar kant van die storie in ’n onlangse sitkamergesprek by AfriForum verduidelik.

“Daar was die Vrydag voor die Saterdag se verwelkomingseremonie kort voor middernag ’n boodskap uitgestuur wat lui dat dorpskoshuise nie die seremonie sal kan bywoon nie omdat dit dan te ‘wit’ sal wees. Die KSR het die Saterdagoggend vergader waar ek die besluit bevraagteken het. Dorpskoshuise betaal immers ook vir die voorreg om deel te wees van die seremonie,” sê Groenewald.

Beàtha Groenewald, voormalige KSR-lid by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom kampus

Die universiteit se verskoning vir die uitsluiting was dat daar nie genoeg sitplek vir almal was nie. Tog is ekstra sitplekke vorige jare by die amfiteater aangebring om al die eerstejaarstudente te akkommodeer. Dit was nie in 2023 die geval nie en ’n tekort aan fondse is as rede voorgehou. Privaat studente is tussen die studente van kampuskoshuise, wat ’n 50/50-raskwota handhaaf, ingesluit en die studente van dorpskoshuise, waar daar nie kwotas is nie, is glo uitgesluit om te verhoed dat die seremonie te “wit” lyk.

“Die eerstejaars van die dorpskoshuise wat ek raakgeloop het, was uiters teleurgesteld. Hulle het hard aan hul liedjies geoefen en kon dit nie tydens die seremonie sing nie. Huiskomiteelede wou by my weet wat aan die gang is. Ek dink daar is baie politieke agendas wat gedryf word waarmee ek nie saamstem nie,” sê Groenewald.

Die KSR-voorsitter het ’n vergadering vir middernag die Maandag ná afloop van die verwelkomingseremonie gereël. Die agenda het Groenewald geskok, want dit het ’n punt ingesluit om ’n mosie van wantroue teen haar te bespreek.

Ek is 100% vir die studente.

“Die voorsitter het in aanloop tot die vergadering individuele gesprekke met KSR-lede gevoer waar hy hulle voorgesê het wat om te doen. Dit was tydens die vergadering duidelik dat daar ’n persoonlike vendetta teen my is. Ek is onder meer gevra of my steun by hom of die studente lê. Ek is 100% vir die studente. Teen omtrent 02:00 die oggend is ek afgedank en gevra om die vergadering te verlaat.”

Groenewald sê sy het baie ondersteuning van HK’s en studente van alle rassegroepe gekry. Uiteindelik het AfriForum Jeug betrokke geraak en gehelp dat Groenewald weer in haar posisie op die KSR aangestel word.

Groenewald het intussen as KSR-lid bedank. “Ek is geboelie en dit het so onaangenaam geword dat ek dit nie meer kon uithou nie. Dis regtig jammer, want ek dien al van my eerstejaar af op verskeie leierskapstrukture en wou nog altyd net die beste vir die studente hê. Ek is steeds baie lief vir die Puk.”

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug

“Die universiteit verkondig inklusiwiteit, maar blykbaar kan ’n mens net ingesluit word indien ’n mens jou eie kultuur prysgee. Ons wil Beàtha bedank vir haar dapperheid om op te staan om die regte ding te doen,” sê René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug.

Kyk die volledige gesprek hier.

Soortgelyke plasings