| |

Voormalige Clover-werknemers skuldig aan dubbele moord op sekuriteitswagte tydens staking

Die voormalige Clover-werknemers Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba is in die Johannesburgse Hooggeregshof skuldig bevind vir die brutale moorde op die sekuriteitswagte Terence Tegg en JJ Cassanga. AfriForum se privaatvervolgingseenheid –  wat Tegg se verloofde, Michele Bebbington, en die Cassanga-familie verteenwoordig – het nou saam met die polisie en die aanklaer gewerk om bewyse te versamel,  dossier op te stel en die saak aan die hoof voor te hou.

Op 17 Februarie 2022 het ’n gewelddadige groep stakende Clover-werknemers ’n wrede aanval op verskeie wagte buite die melkprodukte produsent se fasiliteit in Olifantsfontein geloods. Tegg het op die dag aan sy beserings beswyk, Cassanga het in Junie 2022 weens komplikasies ná die aanval gesterf.

Regter Mathunzi het die getuienis van die beskuldigdes verwerp en hulle weergawe van die gebeure beskryf as niks meer as duimsuig en ’n nagedagte nie. Die hof het bevind dat die beskuldigdes deel was van ’n groep wat met ’n gemeenskaplike doel opgetree het toe die sekuriteitswagte aangeval is en dat hulle bedoel het om Tegg en Cassanga te vermoor. Mathunzi het bevind dat die staat se getuienis geloofwaardig en betroubaar is, wat forensiese analise van die beeldmateriaal insluit wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid bekom het.

Ontstellende beeldmateriaal wys hoe die groep stakers Tegg omsingel, geskop en geslaan het tot hy op die grond gelê het waarna klippe en ander items gebruik is om sy kop inmekaar te slaan. Die aanvallers het hom toe van sy beursie, haelgeweer en ammunisie beroof. Cassanga is gejaag en oorweldig, sy kop is ingeslaan en hy is ook met sy eie haelgeweer geslaan. 

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê die skuldigbevinding demonstreer hoe noue samewerking tussen die staat en die privaatvervolgingseenheid geregtigheid vir misdaadslagoffers kan verseker. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid het betrokke geraak ná die SAPD ons om hulp genader het. Die privaatvervolgingseenheid se gesoute ondersoekers het verseker dat kritieke getuienis versamel en analiseer kon word, en dat verklarings wat die beskuldigdes by die moord betrek opgestel kon word en by die dossier ingesluit kon word. Ons span het byna elke hofverskyning bygewoon van dag een af tot dit uiteindelik tot ’n einde gekom het, ten einde die vordering van die saak te moniteer en te verseker dat die saak ’n eindpunt bereik.”

Die privaatvervolgingseenheid het die video deskundige genader, uitgebreide konsultasies tydens die analise van die bewyse gehad en  die deskundige gehelp om voor te berei om die bewyse aan die hof voor te hou. Hierdie bewyse sluit kringtelevisiebeeldmateriaal asook selfoonvideo’s in. Die deskundige het klere en ander identifiseerbare merkers gebruik om die individue se bewegings deur die loop van daardie noodlottige dag te volg en uit te pluis hoe hulle by die moorde betrokke was.

Bateman het die ondersoekbeampte van die SAPD, Kaptein Robert Seckle, en die aanklaer, adv. Matthews Rampyadi, bedank vir hulle toewyding om te verseker dat geregtigheid kon seëvier.

Die skuldigbevinding het ook vir Bebbington verligting gebring. “Ek is baie bly dat ons by hierdie punt kon uitkom, want dit was ’n emosionele wipwa-rit en daar was tye wat ek gedink het ons gaan nooit op ’n punt kom waar iemand skuldig bevind gaan word nie. So ek is baie, baie bly oor die skuldigbevinding en ek het groot waardering vir Gerrie Nel en sy span en vir AfriForum. Hulle was fantasties. Ons sou nooit deur die eerste dag by die hof kon kom as dit nie vir hulle was nie. Hulle was instrumenteel in hierdie saak en om my te help. Hulle was elke tree van die pad aan my sy en dit het so baie gehelp.”

Die saak is tot Woensdag, 16 Oktober, vir die vonnisoplegging uitgestel. Lewenslange gevangenisstraf staar Shokane en Duumba in die gesig.

Soortgelyke plasings