|

Voormalige Clover-werknemers lewenslange gevangenisstraf opgelê vir “barbaarse, wreedaardige moorde

Die voormalige Clover-werknemers Mohale Shokane en Vusumuzi Duumba is vandag in die Johannesburgse Hooggeregshof lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die brutale moorde op die sekuriteitswagte Terence Tegg en JJ Cassanga. AfriForum se privaatvervolgingseenheid – wat Tegg se verloofde, Michele Bebbington, en die Cassanga-familie verteenwoordig – het nou saam met die polisie en die aanklaer gewerk om bewyse te versamel, die dossier op te stel en die saak aan die hof voor te hou. Shokane en Duumba is op 14 Oktober skuldig bevind.

In sy vonnisuitspraak het regter Thomas Mathunzi bevind dat die oortreders geen berou toon nie en dat die aanval “barbaars en wreedaardig” was. Regter Mathunzi het onder meer gesê dat Tegg en Cassanga die gemeenskap beskerm het en dat die moorde op hulle gelykstaande is aan ’n moord op ’n polisiebeampte. Hy het voorts gesê dat diegene wat gemeenskappe beskerm met te veel gemak vermoor word en dat die gemeenskap woedend en angstig behoort te wees dat hulle veiligheid ook hierdeur in gedrang gebring word. Regter Mathunzi het ook sy hoop uitgespreek dat hierdie vonnis sal dien as ’n afskrikmiddel vir voorgenome oortreders.

Op 17 Februarie 2022 het ’n gewelddadige groep stakende Clover-werknemers ’n wrede aanval op verskeie wagte buite die melkprodukte produsent se fasiliteit in Olifantsfontein geloods. Tegg het op die dag aan sy beserings beswyk, Cassanga het in Junie 2022 weens komplikasies ná die aanval gesterf.

Ontstellende beeldmateriaal wys hoe die groep stakers Tegg omsingel, geskop en geslaan het tot hy op die grond gelê het waarna klippe en ander items gebruik is om sy kop inmekaar te slaan. Die aanvallers het hom toe van sy beursie, haelgeweer en ammunisie beroof. Cassanga is gejaag en oorweldig, sy kop is ingeslaan en hy is ook met sy eie haelgeweer geslaan. 

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat die lewenslange vonnisse gepas is, hy voeg by dat dit moet dien as ’n afskrikmiddel vir ander. “Ons sien te gereeld dat diegene wat skuldig is aan boendoegeweld, en gewelddadige betogers wat hulself skuldig maak aan moedswillige kriminaliteit ongestraf bly, ten spyte van genoegsame beeldmateriaal wat hul wandade dokumenteer. Ons hoop dat hierdie skuldigbevinding en vonnis ’n duidelike boodskap aan die publiek stuur dat om die reg in eie hande te neem ernstige gevolge het. Ons hoop ook dat dit die polisie en aanklaers oortuig dat wanneer die tyd en hulpbronne in hierdie soort sake ingeploeg word, dan sal skuldigbevindings volg. Ons het waardering vir die harde werk van die polisie se ondersoekbeampte, kaptein Robert Seckle, en die staatsaanklaer, adv. Matthews Rampyapedi.”

Bebbington glo dat geregtigheid geskied het. “Ek dink hulle verdien dit. Jy kan nie ’n lewe neem en verwag om aan te gaan met jou eie lewe nie. Ek dink die vonnis is regverdig. Ek het meer oor die strafregstelsel geleer as wat ek vir enigiemand sal toewens. Ek het geleer dat dit nie altyd werk soos dit moet nie. In ons geval dink ek ons is gelukkig dat AfriForum betrokke was en ook kaptein Seckle wat ’n goeie werk gedoen het. Ongelukkig dink ek nie dat dit die geval is vir almal in hierdie soort omstandighede nie. Dankie aan almal wat ons tot hier gehelp het. Ek sou dit nooit op my eie kon doen nie en ek kan verstaan hoekom nie.”

Soortgelyke plasings