|

Voorkom “Dag Zero” in Gauteng lek vir lek, eis AfriForum met nuwe waterveldtog

AfriForum skop vandag ’n veldtog af wat munisipaliteite in Gauteng gaan noop om gehoor te gee aan die 72 uur-spertyd vir die herstel van waterlekkasies soos die minister van Water en Sanitasie (DWS), Pemmy Majodina, onlangs aanbeveel het. ’n Interaktiewe platform (www.waterkrisis.co.za) waarop inwoners van dié provinsie waterlekkasies kan aanmeld en waardeur die verantwoordelike munisipaliteite se hersteltempo gemonitor sal word, is ook vandag bekendgestel. Dié veldtog is daarop gemik om die dreigende “Dag Zero” in die provinsie af te weer en die verlies van drinkwater weens lekkasies – wat in Gauteng tans op nagenoeg 33% gereken word – te verminder.

Die burgerregteorganisasie hou vol dat die tyd lankal aangebreek het vir munisipaliteite om hul kant te bring om die verlies van dié kosbare hulpbron te voorkom.

Minister Majodina het verlede week, tydens ’n sitting van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie, gesê dat munisipaliteite geen verskoning het om nie lekkasies binne 72 uur te herstel nie. AfriForum is dit met haar eens dat die spoedige herstel van waterlekkasies ’n tree in die regte rigting is om die waterkrisis in veral Gauteng die hoof te bied.

AfriForum het vandag, as deel van die bekendstelling van hierdie platform, 38 plakkate as merkers van bestaande waterlekkasies oor die hele Gauteng aangebring. Die AfriForum-takke in Gauteng sal in die komende weke voortgaan om lekkasies te rapporteer en plakkate aan te bring. Hierdie merkers dien ook as ’n sigbare hulpmiddel om dit selfs makliker te maak vir munisipaliteite om te sien presies waar die lekkasie is wat herstel moet word. Die publiek word aangemoedig om nie net lekkasies elektronies op AfriForum se Waterkrisis-platform aan te meld nie, maar om ook die merkers aan te bring as ’n vorm van stille protes téén munisipaliteite se versuim om lekkasies tydig te herstel. Die aflaaibare plakkaatontwerp is beskikbaar op die Waterkrisis-platform.

Alle lekkasies wat op AfriForum se platform aangemeld word, sal outomaties ook by die betrokke munisipaliteit aangemeld word. Die publiek hoef bloot ’n aanlyn vorm te voltooi met besonderhede oor die ligging (fisiese adres of GPS-koördinate) van die lekkasie. Foto’s kan ook as bewys van die lekkasie aangeheg word. Aanmelding op AfriForum se platform sal die burgerregteorganisasie in staat stel om munisipaliteite se herstel van lekkasies te monitor.

“Ons wil sien dat munisipaliteite gehoor gee aan minister Majodina se opdrag om binne 72 uur waterlekkasies te herstel. Die huidige verliese is enorm en kan beperk word, maar daarvoor is die munisipaliteite se toegewydheid noodsaaklik,” benadruk Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

De Klerk meen voorts dat die vlak 1-waterbeperkings wat die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, gister vir Gauteng afgekondig het, neerkom op ’n strafmaatreël vir eindverbruikers weens die laksheid van munisipaliteite om die waterkrisis af te weer. “Intussen moet hierdie einste inwoners, wat nou gehoor moet gee aan streng waterbeperkings, toekyk hoe drinkwater weke of selfs maande lank vryelik deur die strate loop of opdam in velde, terwyl munisipaliteite met gevoude hande sit en weier om die vermorsing te stop,” sê De Klerk.

Lesufi se aanbeveling, dat Rand Water met oplossings vir die waterkrisis in Gauteng vorendag moet kom, beklemtoon volgens De Klerk, die feit dat die premier nie bereid is om self beheer te neem oor die munisipaliteite wat onder hom val nie en derhalwe sy verantwoordelikheid teenoor die provinsie se inwoners probeer systap.

“Die onus kan nie op Rand Water rus om oplossings vir waterverliese te vind nie. Dit is uit en uit die munisipaliteite se verantwoordelikheid om infrastruktuur in stand te hou en onmiddellik op te tree wanneer waterlekkasies aangemeld word. Rand Water kan voorstelle maak, maar daardie voorstelle is van nul en gener waarder as die munisipaliteite dit nie implementeer nie.”

Volgens AfriForum is dit wel belangrik dat Gautengers oor die algemeen meer spaarsamig met water moet omgaan, maar beklemtoon dat die gebrek aan infrastruktuurinstandhouding die werklike en veel dringender probleem is.

Inwoners van Gauteng kan nou waterlekkasies aanmeld by www.waterkrisis.co.za.

Soortgelyke plasings