|

Volslae krisis landwyd by vullisterreine – AfriForum-verslag onthul omvang van verval

AfriForum het vandag sy jaarlikse vullisterreinouditverslag by die munisipale vullisterrein in Bethal bekend gemaak en opnuut Suid-Afrikaners se aandag daarop gevestig dat weinig munisipaliteite gehoor gee aan die relevante afvalbestuurswetgewing wat bedoel is om die omgewing teen besoedeling en gemeenskappe se gesondheid te beskerm. Die verval van vullisterreine neem toe en is so omvangryk dat, hoewel AfriForum vanjaar 28 meer terreine geoudit het as verlede jaar, selfs minder vullisterreine vanjaar dié onafhanklike oudit kon slaag. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van dié terreine het nie eens aan die minimum vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.

AfriForum doen reeds sedert 2014 verslag oor die land se vullisterreine om te bepaal of hierdie terreine die nodige omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nakom. Die burgerregteorganisasie se landwye netwerk van 160 takke het gedurende Februarie 185 munisipale vullisterreine en vier private vullisterreine geoudit. ’n Vraelys is saamgestel om die belangrikste aspekte van goeie afvalbestuur, soos toegangsbeheer en sekuriteit, infrastruktuur, personeel, toerusting, herwinning, monitering en rekordhouding, te bepaal. Punte is toegeken vir elke kategorie wat aan die ouditvereistes voldoen en verwerk na ’n finale nakomingspunt uit 100. Om die oudit te slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die ouditvereistes voldoen het.

Uit die 189 vullisterreine wat geoudit is, is bevind dat:

  • slegs 27 (14,3%) van die vullisterreine aan 80% of meer van die ouditvereistes voldoen het;
  • 162 (85,8%) van vullisterreine nie die oudit geslaag het nie;
  • 12 van die vullisterreine wat geslaag het in die Wes-Kaap gesetel is en ses in Gauteng. Beide hierdie provinsies het ook ’n veel hoër nakomingspunt behaal as die nasionale gemiddeld (39,4%); en
  • die swakste presterende provinsies die Vrystaat en die Noord-Kaap insluit. Vir die sewende agtereenvolgende jaar het geen vullisterreine in die Vrystaat die oudit geslaag nie.

“In ag genome dat die ouditslaagsyfer bepaal of daar slegs aan die minimum vereistes vir afvalbestuur voldoen word, en hoe min vullisterreine wel geslaag het, is dit duidelik dat daar groot gebreke in terme van munisipale afvalbestuur is. Dis boonop kommerwekkend dat minder vullisterreine die oudit geslaag het as in 2023, aangesien AfriForum verlede jaar se bevindings met al die betrokke munisipaliteite sowel as die destydse minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DBVO) gedeel het. Dit blyk dus dat geen daadwerklike stappe in die afgelope jaar gedoen is om die tekortkominge te takel nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

Die jongste vullisterreinouditverslag dui daarop dat Suid-Afrika wesenlike probleme met die bestuur van vullisterreine ondervind. Die oudit wys ook dat indien hierdie probleme nie dringend die hoof gebied word nie, dit tot ’n algehele ineenstorting van afvalbestuur in die land sal lei. AfriForum beplan reeds ’n vergadering met dr. Dion George, minister van die DBVO, om ’n formele ondersoek teen die betrokke munisipaliteite te versoek. Die burgerregteorganisasie gaan ook voorstel dat die DBVO ’n fasiliterende rol speel om wesenlike vennootskappe met die privaat sektor aan te moedig. Indien dié vennootskappe suksesvol is, sal munisipaliteite as skeidsregters eerder as diensverskaffers optree en sodoende verseker dat vullisterreine wetlike vereistes nakom.

“Die vullisterreinouditverslag se bevindings is net nóg ’n bewys dat munisipaliteite se vermoë om hulle verpligtinge ten opsigte van afvalbestuur na te kom, heeltemal ontbreek. Die DBVO sal dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep sodat die land nie onder vullis begrawe word nie. Die struikelblokke is enorm, maar AfriForum sal onverpoos werk om vullisterreine te moniteer en alternatiewe vir behoorlike afvalbestuur in Suid-Afrika te ondersoek,” sluit De Vaal af.

Lees die ouditverslag hier.

Soortgelyke plasings