Visie om Afrikaans as amptelike taal te vestig vandag gevier
“Daar is baie herdenkingsdatums in die Afrikaanse geskiedenis, maar vandag is een van die belangrikste. Vandag vier ons die bewustelike besluit wat 142 jaar gelede gemaak is om Afrikaans as ʼn amptelike taal te vestig.”
Só sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met erfenissake, oor Afrikaanse Taaldag wat op 14 Augustus gevier word.
Volgens Bailey word mens veral op Taaldag herinner dat die onus op Afrikaanssprekendes rus om Afrikaans in stand te hou. Nie net as spreektaal nie, maar ook as hoëfunksietaal. Die hofaansoek om die Universiteit Stellenbosch (US) se huidige taalbeleid te laat hersien en tersyde te stel word juis ook vandag aangehoor.
“AfriForum beywer hom reeds vir die bevordering van Afrikaans op verskillende terreine en is veral daarop ingestel om ʼn liefde vir Afrikaans onder jongmense te kweek. Dit is ons verantwoordelikheid om ons taal verder uit te bou.”
Die eerste beweging wat hom beywer het vir Afrikaans was die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA). Dié beweging is beskou as die dryfkrag van die eerste Afrikaanse taalbeweging en is vandag 142 gelede in die huis van Gideon Malherbe in die Paarl gestig.
Die Nederlandse onderwyser en taalkundige, Arnoldus Pannevis, wat vandag beskou word as die vader van die Afrikaanse taal danksy sy visie om Afrikaans as geskrewe en leestaal aanvaar te kry, het saam met sommige van sy voormalige leerlinge aan De Gimnasium (vandag Paarl Gimnasium), die GRA gestig. De Gimnasium was toe ʼn privaat Nederlandse skool.
Dit is Pannevis se taalkundige agtergrond wat hom laat besef het dat die sogenaamde Kaaps-Hollands wat mense gepraat het, te ver verwyderd was van Hollands om as een van Hollands se dialekte aanvaar te word. In reaksie hierop het hy dié taal Afrikaans genoem.
Die GRA se hoofdoelwit was om Afrikaans uit te bou tot ʼn kultuurtaal wat kenmerke moes hê van beide Kaapse Afrikaans en Oosgrens-Afrikaans. Die groep se belangrikste medium was die koerant, Die Patriot, ʼn dagblad waarin hulle hul eie soort Afrikaans aan die publiek bekend gestel het.
Die doelstellings van die GRA is egter deur die meeste Kapenaars verwerp. Nederlands was beskou as die algemeen aanvaarde kultuurtaal. Dit was die formele skryf-, kerk-, bestuurs-, onderwys- én die taal van die pers. Nederlands het hoë aansien geniet en is as ‘n deftige statustaal beskou. Afrikaans is beskou as ‘n taal wat die stempel van onkunde gedra het.
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die GRA tot niet gegaan. Maar ander bewegings soos die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) is in 1905 op ’n kongres in Pretoria gestig, onder leiding van Gustav Schoeman Preller. Die doel was om die publiek aan te moedig om in Afrikaans te skryf en praat, maar om Nederlands steeds te leer. In 1906 word die Afrikaanse Taalvereniging (ATV) onder leiding van JHH de Waal in Kaapstad gestig en dié geleenthede word algemeen as die begin van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging gesien.
Die FAK is ook só ’n organisasie wat Afrikaners sedert 1929 gehelp het deur verskeie inisiatiewe soos die publisering van die eerste Afrikaanse sangbundel in 1933. Vandag vier die FAK Afrikaans Taaldag op ʼn unieke manier met die bekendstelling van ink, ʼn digitale Afrikaanse tydskrif wat voortaan maandeliks gratis sal verskyn. Volgens Johan Jansen van Vuuren, projek- en kommunikasiebeampte by die FAK, is dit belangrik vir Afrikaanssprekendes om eienaarskap van hul taal te neem deur Afrikaanse kunste en produkte soos ink te ondersteun.
AfriForum wil ook weet hoe jy vandag Afrikaans Taaldag vier.
Stuur ʼn SMS met jou naam en kontakbesonderhede na 42314 waarin jy vertel hoe jy Taaldag vier en staan ʼn kans om ʼn kopie van Ons gaan ’n taal maak deur prof. Jaap Steyn asook ʼn DVD van Die Wonder van ʼn Nuwe Taal in Afrika te wen. SMS kos R1.