|

Vervalle grondpad voor tehuis in Prieska maande later herstel

Die gemeenskap van Prieska moes bykans vier maande gewag het voordat die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit eindelik verbeterings aan Kerkstraat by Huis Frank du Toit-tehuis aangebring het. AfriForum se Prieska-tak het by verskeie geleenthede met die munisipaliteit in gesprek getree oor hierdie pad en selfs aangebied om die herstelwerk te fasiliteer, maar maande het verby gegaan voordat die munisipaliteit eers die pad herstel het. Die munisipaliteit het eindelik op 29 Julie dié vervalle grondpad gelykgemaak.

Die betrokke pad was vir ’n groot deel van die jaar ’n kopseer vir die inwoners van die gebied. Die verslegtende toestand van die pad het nie net motoriste se veiligheid in gedrang geplaas nie, maar ook ambulanse se toeganklikheid tot die gebied belemmer. Danksy AfriForum se ingrypings is die inwoners se bekommernisse oor die vervalle pad egter tot ruste gelê.

Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, sê die herstel van hierdie pad simboliseer die burgerregteorganisasie se verbintenis tot die welstand en ontwikkeling van die Prieska-gemeenskap. “Toegang tot goed onderhoude infrastruktuur is noodsaaklik vir ekonomiese groei, veiligheid en algehele lewenskwaliteit. Die herstelwerk aan hierdie pad is ook ’n bewys van die impak wat konstruktiewe gesprekke tussen inwoners, burgerregteorganisasies en plaaslike owerhede kan hê en die blywende verandering wat dit teweegbring.”

AfriForum se Prieska-tak beywer om in die toekoms saam met die plaaslike munisipaliteit te werk sodat dringende kwessies tydig die hoof gebied kan word.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Prieska-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings