| |

Vermeende vleisdiewe loop hul rieme styf ná AfriForum-plaaswag kameras inspan

Vyf vermeende diewe het verlede week hul rieme styfgeloop nadat hulle stukke beesvleis van ’n ongelukstoneel in die Herold-omgewing in die Wes-Kaap probeer steel het. Drie beeste, wat aan ’n boer in die omgewing behoort, is op 22 Oktober deur twee aankomende voertuie op die N9 getref. Om 20:00 is die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en nooddienste oor die ongeluk in kennis gestel. AfriForum se Herold-plaaswag het ook na die toneel gehaas, waar hulle gehelp het om verkeer te reguleer.

Terwyl die nooddienste nog in aantog was, het ’n bakkie met vyf mans by die ongelukstoneel gestop en een van die dooie beeste op die toneel begin opkap. Die mans het omstanders gedreig, gevloek en beledigings toegesnou terwyl hulle die beesvleis gebuit het. Die mans het met die vleis in die voertuig gespring en in die rigting van Uniondale op die vlug geslaan.

Met behulp van LPR-kameras, wat van kunsmatige intelligensie gebruikmaak om nommerplate te ontleed, het AfriForum se plaaswag vasgestel dat die voertuig nog in die omgewing is en na dit begin soek. Die plaaswag het gou die voertuig opgespoor en die SAPD ontbied. Die SAPD het in samewerking met die plaaswag die voertuig afgetrek en die vier insittendes in hegtenis geneem nadat hulle erken het dat hulle die vleis gesteel het. Die polisie het op kapmesse beslag gelê wat glo gebruik is om die bees op te kap, asook die bakkie waarop bloedspatsels duidelik sigbaar was.

Lede van die plaaswag het toe saam met die SAPD na ’n huis gegaan waar die beesvleis saam met die diewe se makker afgelaai is. Die vyfde verdagte is met die gesteelde vleis in sy besit gevind, asook ’n aantal Mandrax-tablette. Hy is in hegtenis geneem en die polisie ondersoek die saak verder.

Die plaaswag het dae voor die voorval ’n gebeurlikheidsplan vir veediefstal ingeoefen. Die lesse wat hulle daaruit geleer het, kon hulle toe prakties in hierdie geval toegepas het, sê Gus du Toit, leier van AfriForum se Herold-plaaswag.

“Dis net weereens ’n bewys hoe belangrik dit is om deeglik voorbereid te wees. Ongelukkig leef talle mense met die wanpersepsie dat hulle nooit die slagoffers van ’n misdaad sal wees nie. Dit is juis dan wanneer hulle onverhoeds gevang word. AfriForum sal egter voortgaan om sy lede op te lei sodat misdaad nie ’n vastrapplek in die gebied kan kry nie,” sê Du Toit.

Sluit vandag nóg by jou naaste AfriForum buurt- of plaaswag aan en wees voorbereid. Stuur ’n e-pos aan marthinus.erasmus@afriforum.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings