Vermeende kabeldiewe loop hul vas teen brawe Mosel-buurtwaglid
Vermeende kabeldiewe, wat al geruime tyd inwoners van Mosel in Uitenhage teister, het hulle vroeg Saterdagoggend (16 November) vasgeloop in ’n brawe lid van die gedugte AfriForum Mosel-buurtwag. Twee verdagtes is op heterdaad betrap terwyl hulle besig was om ’n 90 m koperkabel te steel. Die verdagtes het ook gereedskap in hul besit gehad wat algemeen gebruik word om kabels mee te buit.
’n Lid van AfriForum se Mosel-buurtwag sê hy het vroeg die oggend honde in die omgewing hoor blaf en op sy sekuriteitskameras gaan kyk wat moontlik tot die geraas kon aanleiding gee. Dit was toe dat hy die vermeende kabeldiewe gesien en alarm gemaak het op die buurtwaggroep. Nog voordat hulp kon opdaag het die buurtwaglid self die booswigte in hegtenis geneem en later aan die polisie oorhandig.
Die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit het by monde van ’n woordvoerder meegedeel dat die herstelkoste verbonde aan hierdie misdaad sowat R170 000 is, afgesien van die daelange ongerief wat dit aan lede van die publiek sou veroorsaak het. Die munisipaliteit het ook AfriForum en hierdie tak se buurtwag bedank vir hul volgehoue pogings om misdade soos hierdie te bekamp.
Die twee verdagtes sal na verwagting vandag in die hof verskyn en staan tereg op aanklagte van diefstal en die beskadiging van infrastruktuur. Intussen duur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se ondersoek na die verdagtes se betrokkenheid by ander kabeldiefstalgevalle in die omgewing voort.
“Die paraatheid en heldhaftigheid wat die buurtwaglid getoon het spreek boekdele van AfriForum se verbintenis om vry, veilige en voorspoedige gemeenskappe te kweek wat eienaarskap neem van hul omgewing. Dis ook verblydend om te sien dat die Mosel-buurtwag daarin geslaag het om die vermeende diewe vas te trek, die munisipaliteit duisende rand in skade te spaar en die gemeenskap van nóg kragonderbrekings te vrywaar,” sê Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.
Raak vandag nog by AfriForum betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.