|

Verhoor van weermagoffisier wat MIV “versprei” vir vierde maal uitgestel nadat prokureur versuim om op te daag

Die verhoor van ‘n beskuldigde – wat van poging tot moord aangekla word omdat hy na bewering ’n slagoffer met MIV besmet het terwyl hy geweet het dat hy die virus onderlede het en dié feit verswyg en ontken het – is vandag vir die vierde keer in die Pretoriase Landdroshof tot 3 Maart 2022 vir verhoor uitgestel. Die verhoor sou vandag uiteindelik begin het, maar die beskuldigde se prokureur het versuim om op te daag, omdat hy na bewering vanoggend in ’n motorongeluk was. Hy het ’n kollega hof toe gestuur om aansoek te doen om die uitstel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het namens die klaer en haar familie ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak. Sowel die beskuldigde as die klaer was ten tye van die pleeg van die beweerde misdryf lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.

Volgens Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit betreurenswaardig dat die saak vandag wéér te wyte aan die beskuldigde se regspan uitgestel moes word. “Die beweerde misdryf het reeds in 2017 plaasgevind, wat beteken dat die klaer nou al vir vyf jaar vir geregtigheid wag.”

Die saak is reeds op drie ander geleenthede ook weens die beskuldigde se regspan uitgestel – op die vorige geleentheid was die verdedigingsprokureur skynbaar siek, maar hy het steeds nie ’n doktersbrief aan die hof verskaf om dít te bewys nie. Die hof het egter vandag gelas dat hierdie saak nou vir die laaste maal vir verhoor uitgestel word en dat die saak op 3 Maart sál voortgaan, al moet die beskuldigde sy eie verdediging behartig. Die prokureur moet ook op hierdie datum bewyse ter bevestiging van die ongeluk en die daaropvolgende mediese ondersoeke aan die hof verskaf.

“Die hof se beslissing is ’n stap in die regte rigting, want ons is van mening dat sterk optrede deur die hof noodsaaklik is om die onredelike vertraging van strafsake hok te slaan. Een van die grootste motiewe van die onredelike vertraging van strafsake is om slagoffers tot só mate te frustreer dat die vervolging laat vaar word. Ons wil ook die aanklaer van die NVG komplimenteer dat hy die aansoek om uitstel ten sterkste teengestaan het en slaggereed was om vandag met die verhoor te begin,” sê Venter.

Soortgelyke plasings