Vergeet van ras, ons sny gras (en doen nog vele meer) in Tshwane-metro – AfriForum
AfriForum het vandag, tydens ’n slaggatherstelprojek wat in Monumentpark gefinaliseer is, gewys hoe die samewerkingsooreenkoms met die Tshwane-metro op ’n tasbare wyse tot voordeel van inwoners van dié stad strek. Die burgerregteorganisasie het ook, in reaksie op kritiek teen die ooreenkoms en die Tshwane-burgemeester se versoek om samesprekings daaroor te voer, sy vyfledige standpunt oor samewerking in dié en ander munisipaliteite aangekondig.
Sedert die ondertekening van die samewerkingsooreenkoms het AfriForum reeds minstens R1 miljoen bestee aan gemeenskapsprojekte in die metro. Enkele van dié projekte sluit in:
- Skoonmaakprojek: Binne slegs een maand het AfriForum skoonmaakaksies in verskeie dele van die metro aangepak en meer as 94 000 m2 skoongemaak.
- Slaggatprojek: Deur die slaggatprojek wat vandeesweek in Monumentpark aangepak is, is meer as 22 ton teer gebruik om slaggate in dié buurt te herstel. Die koste van dié projek beloop meer as R108 000.
- Grassnyprojek: Nagenoeg 78 000 m2 se gras is binne een maand gesny in parkies, groenstroke, spruite en middelmanne.
- Padverfprojek: As deel van een padverfprojek wat aangepak is, waartydens padmerkers, spoedhobbels en verkeersirkels oorgeverf is, is 600 liter verf gebruik om die veiligheid van paaie vir motoriste en voetgangers te verbeter.
- Straatligprojek: Sowat 28 km se straatligte is in een straatligprojek herstel. Dié herstelwerk behels onder meer die herstel van kabels en die vervanging van straatligte, en maak ’n noemenswaardige bydrae tot veiligheid.
- Vullisverwydering: Deur AfriForum se vullisverwyderingsprojek is sowat 18 ton vullis verwyder.
Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord, word die projekte wat in die metro aangepak word, uit lede se finansiële bydraes befonds en merendeels deur lede self onderneem. “Georganiseerde gemeenskappe wat na die belange van hul eie gemeenskappe omsien, skep ’n realiteit waarbinne ’n selfdoenkultuur nie net aangemoedig word nie, maar ook kan floreer. Beperkte hulpbronne noodsaak dit dat kundigheid en energie vanuit die plaaslike gemeenskappe optimaal en tot voordeel van die gemeenskap gebruik word – en dit is juis wat AfriForum se lede ook in die metro bewerkstellig,” verduidelik Hemmens.
Deur hierdie samewerkingsooreenkoms het AfriForum reeds die afgelope agt maande prakties gestalte gegee aan die afwenteling van mag na gemeenskapsvlak en die vestiging van gemeenskapsgebaseerde federalisme. Hemmens verduidelik: “Met hierdie benadering neem gemeenskappe die toekoms in hul eie hande en neem self die verantwoordelikheid om hul eie gemeenskappe te verbeter. Dit is ’n beproefde praktyk wat baie suksesvol ook elders in die wêreld toegepas word.”
Hemmens hou vol dat AfriForum, ongeag die uitkoms van samesprekings, sal voortgaan om projekte tot voordeel van die stad se inwoners aan te pak. “AfriForum sal nie van koers gebring word deur ongegronde kritiek wat op ras gebaseer is nie. Ons het nie die metro of enige politieke party se toestemming nodig om die gemeenskappe waarin ons woon, te verbeter nie. AfriForum sal in die Tshwane-metro en elders in die land voortgaan om ons gemeenskappe op te bou en selfstandig te maak. As die metro nie ons gemeenskappe bedien nie, neem ons self die verantwoordelikheid daarvoor – met of sonder die metro se steun,” sluit hy af.