|

Vergeet my nie: Steve Tshwete vergeet dalk, maar AfriForum onthou dié aftree-oord

AfriForum se Middelburg-tak het op Saterdag, 11 Januarie, gras gesny by die Vergeet my nie-aftreeoord in Middelburg. Die tak het ongeveer 1.9 hektaar se gras gesny ná die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit versuim het om hul verpligting teenoor dié oord na te kom.

Volgens dié munisipaliteit is daar nie genoeg kapasiteit om die oord se gras te sny nie aangesien die gras besonders vinnig gegroei het met die onlangse reën.

Die gras was plek-plek kniehoogte hoog en het talle inwoners frustreer aangesien dit beweging bemoeilik en onnet lyk. Die bejaardes wat hier tuisgaan kan ook in baie gevalle nie meer self gras sny nie en is daarom afhanklik van die munisipaliteit wat ook oor die nodige toerusting beskik. Die oord het ook baie groot oop grasperke en dit is ‘n groot taak om die gras te onderhou.

Ses vrywilligers van die Middelburg-tak het moue opgerol en ingespring om die gras te sny – dit het ongeveer ses ure geneem.

“Ons as inwoners moet onafhanklik raak van die munisipaliteit se dienslewering. Stadig maar seker is dit besig om agteruit te gaan. Ons moet self inspring en goed doen”, sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

Soortgelyke plasings