Verdere vertragings in verkragtingsaak ’n teleurstellende terugslag vir geregtigheid
In die week wat president Cyril Ramaphosa sy hele weeklikse nuusbrief aan die plaag van geslagsgebaseerde geweld opgedra het, het die Streekhof in Somerset-Oos ’n verkragtingsaak vir ’n verdere vyf maande uitgestel.
Dit is nóg ’n teleurstellende aanduiding dat die howe nie die vereiste dringendheid het om sake van so ’n erns te finaliseer nie.
AfriForum se privaatvervolgingseenheid is besig met ’n private vervolging teen Isaac Andile Memese, namens die klaer, Celeste Gouws. Memese het Gouws glo in 2017 by haar gastehuis verkrag nadat sy vermoedelik bedwelm is.
Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Oos-Kaap het aanvanklik geweier om Memese te vervolg, ondanks oorweldigende getuienis teen hom. AfriForum glo die hantering van die saak dui op politieke inmenging, aangesien Memese en sy familie politieke bande het.
In die hof vandag, 1 Desember, het Memese se prokureur, Zama Somahela, aan die hof gesê dat die advokaat vir verdediging, adv. Mike Maseti, nie die verrigtinge kon bywoon nie omdat hy siek was. Hy het gevra dat die saak uitgestel word. Maseti het Maandag ’n onduidelike e-pos aan AfriForum en die landdros gestuur waarin hy gesê het dat hy die laaste ses weke aan die “bed gekluister” is, en dat hy “nie sy weg oopsien om vir die saak op te daag nie”.
Adv. Gerrie Nel, wat Gouws verteenwoordig, het die aansoek teengestaan en die hof gevra om verdere duidelikheid van die advokaat te kry oor hoekom die saak uitgestel moet word. “Miskien ’n bietjie filosofies, maar howe is ’n instrument van die samelewing om te verseker dat geregtigheid geskied, en howe moet dus verseker dat die samelewing sy vertroue in die strafregstelsel behou. “Aan die ander kant is ons die pionne wat aan die slagoffers en die samelewing moet verduidelik dat die saak weer uitgestel gaan word. Daarom moet ons vertroue inboesem al aanvaar ’n hof bloot ongestaafde feite vir uitstel,” het Nel gesê.
Nel het verder gegaan deur aan te voer dat dit veels te algemeen in die howe geword het dat sake uitgestel word sonder dat die aansoek gestaaf is. Hy het aangevoer dat die verstekposisie van howe moet wees vir sake om voort te gaan. “Almal weet dat die advokaat se blote mededeling oor sy onbeskikbaarheid om met die verhoor voort te gaan, aanvaar sal word. Almal weet dat howe die belang van ’n beskuldigde selfs bo die belang van geregtigheid verhef. Almal weet dat die verbintenis deur die regering en die president om geslagsgebaseerde geweld-voorvalle te hanteer bloot lippediens is as die howe nie beslissend optree teen onredelike vertragings wat deur enige een van die partye veroorsaak word nie,” het Nel gesê, met verwysing na die wêreldbeweging vir 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.
Ten spyte van die argument het die hof die saak steeds tot 19 April 2023 uitgestel.
Die eenheid se woordvoerder, Barry Bateman, het teleurstelling uitgespreek oor die hof se besluit. “Die hof het vier dae opsy gesit vir die verhoor, maar in plaas daarvan dat die hof getuienis van die verdediging aanhoor, sal die saak en Celeste se strewe na geregtigheid met nog vyf maande uitgestel word.
“Ons is hoopvol dat wanneer die saak in April hervat, die verdediging se regspan gereed sal wees om hul getuienis te lei om hierdie aspek van die verhoor af te handel. Die beweerde oortreding het vyf jaar gelede plaasgevind, enige verdere vertraging is eenvoudig onaanvaarbaar,” het Bateman gesê.
Buite die hof het ’n rusie ontstaan toe Somahela ’n lid van Nel se span valslik daarvan beskuldig het dat hy hom minag. Die prokureur het vroeër by die hof gekla dat foto’s van sy kliënt geneem word en dat hulle sulke optrede verafsku. Die landdros het sy klag van die hand gewys omdat dit nie verband hou met die verrigtinge voor die hof nie.