Verbanning in die naam van Mandela…
Deur Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum
Oudpresident Nelson Mandela ontvang wêreldwyd erkenning vir sy rol in die stryd teen apartheid. Tydens die stryd teen apartheid het die destydse minderheidsregering ook skerp deurgeloop weens sy inperking van burgerlike vryhede en die staat se gebruik van verbanning en sensorskap om die opponente van apartheid te muilband. ’n Voorbeeld hiervan is dat die ANC en die SAKP en hulle simbole tydens die apartheidsera verbied is.
Dit is daarom ’n skokkende ironie dat die Nelson Mandela-stigting, wat hulle daarop roem dat hulle as vaandeldraers van Mandela se nalatenskap optree, nou apartheid-styl metodes gebruik om burgerlike vryhede in te perk en verbannings en sensorskap op hedendaagse Suid-Afrika af te dwing deur die verbanningshofsaak om die 1928 Suid-Afrikaanse vlag (beter bekend as die ou vlag) te verbad.
Benewens die gevaar wat die inperking van burgerlike vryhede inhou, lei die onverdraagsaamheid wat verbanningsaksies onderlê, ook tot onaanvaarbare vlakke van polarisasie in die land. AfriForum is en bly verbind tot die bou van ’n samelewing op die basis van wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe. Hierdie strewe word duidelik uiteengesit in AfriForum se burgerregtemanifes, wat op AfriForum se webtuiste verskyn.
Binne die konteks van AfriForum se strewe na wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe het AfriForum in die aanloop tot die vlaghofsaak reeds op 4 September 2018 ’n brief aan die Nelson Mandela-stigting gestuur waarin teen die polariserende uitwerking van ’n hofgeding gewaarsku word en ’n gesprek aangevra word om ’n vriendskaplike oplossing vir die geskil te vind. Die Nelson Mandela-stigting het egter geantwoord dat hy AfriForum se versoek tot dialoog “verwerp”.
Ten spyte hiervan het die Stigting ná die hofsaak op oneerlike wyse aangevoer dat AfriForum pogings tot gesprekvoering van die hand gewys het. Dit terwyl die teenoorgestelde waar was. Ten spyte van die Nelson Mandela-stigting se leuens bly AfriForum verbind tot gesprekvoering sou die Stigting herbesin oor die dwase rigting wat hulle ingeslaan het om dialoog te verwerp.
Anders as wat oningeligte kritici probeer voorgee, gebruik AfriForum geen vlae by sy byeenkomste nie en het die organisasie ook nie die ou vlag tydens die “swart Maandag”-protesaksie gebruik nie. Die joernalis Nickolaus Bauer, wat destyds valslik beweer het die ou vlag is gebruik, het later om verskoning gevra vir sy wanvoorstelling.
AfriForum gebruik nie die ou vlag nie, onder andere omdat die organisasie besef dat daar ’n deel van die samelewing is wat opreg gekwets voel deur die vlag se vertoon. Daar is tog geen sin in om tydens byeenkomste soos “swart Maandag” wat gehou word om standpunt in te neem teen hedendaagse vergrype soos plaasmoorde in die land, simbole in te trek wat sommige mense aanstoot gee en die aandag van AfriForum se strewe om ’n beter en veilige toekoms te bou, sal aftrek nie. Die basis van die Nelson Mandela-stigting se ververbanningshofsaak en hulle ongevraagde optrede om AfriForum as respondent by die saak in te trek, is dus ook op leuens gebou.
Nadat AfriForum op kwaadwillige wyse deur die Nelson Mandela-stigting by die saak ingetrek is, het AfriForum in die hof aangevoer dat gemeenskappe uit respek vir mekaar uit eie beweging en deur dialoog daaraan moet werk om nie mekaar te beledig en aanstoot te gee nie. Hierdie benadering beteken egter beslis nie dat enigiets wat aanstoot gee, verban moet word nie. Mense wat ná die uitspraak in die vlagsaak dalk hoogs tevrede is met die verbanning van die ou vlag, moet besef wat die gevolge sal wees as iemand in die toekoms aanstoot neem rakende iets anders wat vir hulle belangrik is.
Sodra die staat die mag kry om te bepaal wat aanstootlik is en verbied moet word, beweeg ons in die rigting van ’n polisiestaat wat vryheid van spraak inperk tot in jou eie huis. Dit is dus uit beginsel uit belangrik om teen enige polities gedrewe verbanning te veg, self al besef mens dat die prys daarvoor hoog is omdat die veldslae vir vryheid van spraak ongelukkig inherent net rakende omstrede onderwerpe geveg word.
AfriForum ondersteun ook die feit dat geen reg, ook nie die reg op vryheid van spraak, onbeperk is nie. Die beperkings op vryheid van spraak moet egter goed omskryf word, om te voorkom dat hierdie beperkings deur ’n staat misbruik word om mense wat van die owerheid verskil, se denke en idees te onderdruk.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet omskryf die beperkings op vryheid van spraak wel goed in artikel 16(2). Hier word dit duidelik gestel dat vryheid van spraak nie geld vir propaganda vir oorlog, aanstigting tot geweld en die verkondiging van haat wat aanhits om leed te veroorsaak nie. ’n Verbod op iets wat aanstoot kan gee, sonder dat daar ’n oproep is om iemand leed aan te doen, strook dus nie met die Grondwet se uitdruklike bepalings nie. Daar bestaan dus geen grondwetlike gronde vir die Nelson Mandela-stigting se polities gedrewe heksejag teen Ernst Roets en hulle ondemokratiese aanslag op vryheid van spraak nie.
AfriForum sal, onder meer, op hierdie grondwetlike bepaling steun om die Nelson Mandela-stigting se verdere aanslae op vryheid van spraak in die howe teen te staan.
Die Nelson Mandela-stigting se benadering dat aanstootlike en kwetsende uitsprake verban moet word, selfs al gaan dit nie met aanhitsing tot leed gepaard nie, is problematies veral weens die dubbele standaarde wat die Nelson Mandela-stigting self en die regerende elite toepas wanneer dit kom by wat aanstootlik is en wat nie.
Terwyl die Stigting ’n vlag aanstootlik vind, vind hulle geen fout met oudpresident Mandela se dogter, Zindzi Mandela, se uitsprake dat wit mense “diewe”, “lafaards”, “verkragters” en “onwelkome gaste” in die land is nie. Die Nelson Mandela-stigting het in reaksie op Zindzi se kwetsende uitsprake selfs so ver gegaan as om aan te kondig dat hulle geen noodsaak sien om eers met Zindzi daaroor in gesprek te tree nie. Hierdeur het hulle duidelik gewys dat hulle nie werklik daartoe verbind is om alle kwetsende optrede te pak nie, maar dat hulle daarop uit is om net diegene wat van die Nelson Mandela-stigting en die regerende elite se sienings verskil, se spraakvryheid in te perk.
AfriForum steek ’n hand van vriendskap uit na almal in die land wat uit innerlike oortuiging en deur dialoog wil saamwerk om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder maar ook besef dat verbannings en die inperking van burgerlike vryhede in niemand van ons se belang is nie. Die land kan nie weer ’n sensuurraad bekostig nie, selfs nie al funksioneer sodanige raad nou onder die naam Nelson Mandela-stigting nie.