Veiligheidsplan hoop om ‘misdaadkuur’ te wees
Deur Mariska Batt
AfriForum se nasionale veiligheidsplan hoop om die kuur vir die misdaad-epidemie in Suid-Afrika te wees, met infrastruktuur en opleiding as die hoofkomponente.
Dié plan is vandag tydens AfriForum se nasionale kongres by Klein-Kariba, Limpopo, bekend gestel en dien as ʼn langtermyn selfdoen-toepassingsplan om misdaad hok te slaan en gemeenskappe te mobiliseer om self verantwoordelikheid vir hul veiligheid te neem, onder meer deur die vestiging van buurtwagte.
Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die veiligheidsplan is daarop geskoei om onmiddellik ʼn klomp buurtwagte deur die hele land te stig. “Ons het die afgelope drie jaar die resep ontwikkel, ons het dit gaan toets en ons is nou op ʼn punt wat ons die ganse burgery in die land kan mobiliseer om eerstens misdaad, en alle vorme van misdaad, te kan teenstaan en hulle woonbuurte te kan beveilig.”
Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê die kerndoelwit van die veiligheidsplan is gebiedsoorheersing. “Ons wil gemeenskappe organiseer om proaktief op te tree en ons soek soveel as moontlik betrokkenheid van verskeie rolspelers, waaronder die gemeenskap, die polisie asook ander staats- en privaatinstansies sodat ons misdaad heeltemal kan uitskakel.”
Die ruggraat van die veiligheidsplan is infrastruktuur en opleiding. Infrastruktuur sluit patrollies, reaksie, insidentbeheer, radionetwerke en beheerkamers in. Opleiding fokus op basiese patrollieopleiding, opleiding aangaande wetlike aspekte, toneelhantering, gespesialiseerde opleiding vir reaksiespanne, basiese noodhulp en radiokommunikasieopleiding.
“Ten einde ’n goedfunksionerende buurtwag daar te stel, bied AfriForum voldoende infrastruktuur as ʼn rugsteun aan veiligheidsinisiatiewe. Opleiding is belangrik sodat gemeenskappe binne die wet kan optree en toegerus is met die nodige vaardigheide om beveiliging verantwoordelik en doeltreffend toe te pas. Omdat die staat se rampbeheerplanne nie voldoende is nie, moet gemeenskappe gerat wees vir enige gebeurlikheid,” sê Cameron.
Hy sê verder dat Suid-Afrikaners nie net met die probleem van algehele staatsverval en ʼn algehele verhoging in misdaad sit nie, maar ook die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Die redes wat hiervoor aangevoer word is politieke aanstellings, regstellende aksie, die ontbinding van spesialiseenhede, politieke inmenging en onbevoegdheid.
Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIVR), sê dat misdaad landswyd nie deur die regering gekeer kan word nie. “Met een uit elke 100 polisiebeamptes in Suid-Afrika wat ʼn kriminele rekord het, bestaan daar min rede om vertroue in die polisie te hê.”
Cameron beklemtoon egter dat die SAPD steeds in elke mate moontlik by die veiligheidsplan betrek sal word. “Ons wil ʼn selfstandige vennootskap met die SAPD asook ander staats- en privaatinstansies skep. Ons wil hê dat gemeenskappe as oë en ore moet dien. Die doel is nie om die SAPD se rol oor te neem nie.”
“Die sukses van dié plan sal afhang van betrokkenheid, gewilligheid en samewerking.”