Veggees laat Vrystaatse boere moed hou te midde van brande
Deur Chanté Kelder
Die Wes-Vrystaat, gewoonlik gekleur in skakerings van donkergroen en goue velde, is in swart gehul ná die verwoestende brande wat sedert 13 Oktober woed.
As jy die video’s en foto’s op sosiale media sien, is jy geskok en verslae, maar die ware omvang van hierdie brande sal jy nie kan begryp totdat jy dit met jou eie oë gesien het nie.
Op Danie van den Heever se plaas, Hambure, net buite Boshof lê daar sewe dragtige koeie wat deur die DBV uitgesit moes word as gevolg van brandwonde. In ’n kampie staan nog 14 ander koeie met ligter brandwonde, maar dit is wag en sien of hulle dit sal oorleef.
Sowat 1 000 ha het op Van den Heever se plaas afgebrand. Die reuk van dooie diere hang in die lug en kom sit aan jou klere. Jy is lank reeds weg van die plaas af maar dit voel steeds of jy die dood ruik.
“Ons het voer nodig vir ons beeste,” het Van den Heever gesê terwyl hy met ’n stokou kaart van die gebied sit om ons te wys waar die brande begin het en hoe dit versprei het. “My pa het altyd gesê, ’n mens kan ’n skaap kos gee – dis maklik, maar net die Here kan ’n bees kosgee.”
Sowat 30 km vanaf Hambure lê Henk Vorster se 10 000 ha wildsplaas, Makhulu, waar 7 000 ha se goue velde afgebrand het.
“Ons het nog niks karkasse gekry nie,” vertel hy terwyl ons op sy plaas rondry. “Kyk hierdie stuk hier, dit is op my pad in en uit. Ons kon die brand hierso keer, die Here is goed.”
Oral groet die boere ons met vriendelikheid en ’n warmte wat mens seker net in die Vrystaat kry. Maar die moegheid wys op hul gesigte. Daar word min geslaap, saans maak die boere beurte om hul plase te fynkam vir smeulende kole wat dalk weer kan opvlam en verdere skade kan aanrig. Teen sonop stap die boer eers sy huis binne, gaan slaap vir so uur en begin dan die dag van vooraf.
“Al wat jy kan doen, is om die vuur van die agterkant af te probeer baklei. Jy kan hom nie van voor probeer blus nie, hy sal jou doodbrand,” verduidelik Vorster. “In ideale omstandighede sal die reën kom en die gras sal binne ’n maand weer groen staan maar dit sal steeds maande duur voor daar genoeg is vir die diere.”
“Ek het gesien hoe die vlamme aankom en ek was alleen by die huis,” vertel Santa van den Heever, Danie se vrou.
“Ek weet nie of jy ’n denneboom al sien brand het nie, maar hier staan hulle langs die huis. Ek het uitgeroep, Here, net nie die dennebome nie. Alles tussen die dennebome het gebrand maar hulle het genadiglik nie vlam gevat nie.”
Om self te sien wat daar gebeur het laat mens sonder woorde en die manier waarop die boere hierdie gebeure hanteer en verwerk wys op die absolute veggees en geloof van die boer.
Skenkings stroom reeds van regoor die land en selfs uit ander wêrelddele in. Die boere is dankbaar. Maar vir hulle gaan dit nie nou oor hulle nie, maar oor hul diere. Voer vir die diere en skenkings om hulle te help met die herstel van infrastruktuur soos drade, waterpype en watertenks is nou ‘n prioriteit.
Teen 21 Oktober het daar reeds in totaal ’n geskatte 130 000 ha afgebrand. Op 22 Oktober en 23 Oktober het die vlamme weer opgestaan in Boshof, Kimberley en Christiana.
AfriForum en ander instansies naamlik Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, SAAI, TLU Noordwes en Boere in Nood staan saam om die boere nou op verskeie maniere te help.
Volg ons verder op sosiale media vir meer inligting oor hoe jy kan help.