| | |

#VegEnBou-week: AfriForum sit skouer aan die wiel in Ellisras

AfriForum se Ellisras-tak het op 28 Augustus 2020 die organisasie se #VegEnBou-projek in die dorp afgeskop en verskeie opheffingsprojekte en veiligheidsaksies is tydens die #VegEnBou-week gehou.

Opheffingsprojekte

Die tak het op 28 Augustus 30 bottels handreiniger aan die SAVF Maroela Oord geskenk om die bejaardes en personeel teen die opdoen van COVID-19 te help beskerm. Die tak se jeugvleuel en gemeenskapslede het op 29 Augustus opknappingswerk by die plaaslike DBV gedoen en hindernisbane vir die diere gebou.

Die reuserioolprobleme waaronder inwoners gebuk gaan is op 1 September getakel. Die munisipaliteit het, nadat AfriForum skrywes en emmers onverwerkte riool na die munisipaliteit geneem het, gereageer en ’n munisipale werker is na die pompstasies gestuur. AfriForum het ook samesprekings met M.C. Masoga, uitvoerende bestuurder van infrastruktuur by die munisipaliteit, gehou, waarna Masoga beloof het dat hulle sal poog om die rioolprobleem uit die weg te ruim.

Opknappingswerk is op 2 September by die plaaslike brandweer- en polisiestasie gedoen en lemoen- en mangobome is op die onderskeie persele geplant. Die tak het ook die SAVF Maroela Oord op 4 September ontsmet en instandhoudingswerk gedoen.

“Gemeenskappe moet eienaarskap van hul omgewings neem deur proaktief en selfstandig by gemeenskapsprojekte betrokke te raak. Elke daad en optrede dra by tot ’n daadwerklike verskil in die welstand van gemeenskappe,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Die tak wil graag vir Dawie du Plessis van SA Skips bedank wat sy toerusting en diens gratis beskikbaar gestel het tydens die projekte by die brandweer en SAPD.

Veiligheidsaksies

Die buurtwag het die #VegEnBou-week begin met ’n veiligheidsoudit by die SAVF Maroela Oord om die veiligheid van die bejaardes te evalueer sodat die nodige veranderings aangebring kan word. Die R33-plaaswag se bestuur is ook op 28 Augustus gevestig om die veiligheidstrukture in Ellisras te versterk. Die personeel van die nuwe beheerkamer, wat op 1 September amptelik geopen is, het ook opleiding ontvang sodat hulle AfriForum-buurtwagte in die noordstreek met operasionele take en tydens noodgevalle kan ondersteun.

Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het aan ’n SAPD-operasie deelgeneem wat ten doel het om landelike veiligheid te bevorder. Die plaasgebiede noord van die dorp is op 2 September saam met die SAPD en GPF tot by die Botswana-grens gepatrolleer. Verdagte voetgangers is deur die SAPD deursoek en ondervra en bystand is ook tydens ’n motorongeluk gebied.

AfriForum se R33-plaaswag het op 3 September ’n padblokkade op die R33 tussen Ellisras en Vaalwater saam met die SAPD en boere gehou waartydens voertuie gestop en deursoek is. Voertuie se nommerplate is met ’n mobiele stelsel gekontrolleer en lisensieskyfies is ook nagegaan. 50 voertuie met 101 insittendes is afgetrek en deursoek.

Op 4 September het die Ellisras-buurtwag in samewerking met die GPF, Monster Sekuriteit en noodpersoneel aan ’n padblokkade op die Stokpoort-pad deelgeneem waartydens voertuig- en bestuurslisensies gekontroleer is en daar is ook gesoek vir onwettige wapens. 21 AfriForum-lede, tien GPF-lede en vier SAPD-lede het aan dié blokkade deelgeneem waartydens 207 voertuie afgetrek en deursoek is. Drie inhegtenisnemings is uitgevoer.

“Terwyl die land gebuk gaan onder ’n vlaag plaasaanvalle en -moorde, is dit verblydend om te sien hoe ’n gemeenskap hulself mobiliseer en saam met die polisie werk om misdaad te voorkom. Met samewerking en die benutting van die jongste tegnologie is die plaaswag besig om voorkomend op te tree en misdadigers te ontmoedig. Hierop sal ons bou!” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak betrokke by AfriForum se tak- en buurtwagstrukture in Ellisras: SMS jou naam na 45340 (R1) of raak by AfriForum in Limpopo betrokke deur die Telegram-toep af te laai en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).