Veels geluk, Oom Paul!
10 Oktober bly vir mense van my generasie altyd Krugerdag – die dag waarop ons die geboorte van president Paul Kruger in 1825 herdenk.
“Oom Paul”, soos hy in die volksmond bekendstaan, het die eerste lewenslig op die plaas Bulhoek, in die distrik Steynsburg aanskou. Hy is Stephanus Johannes Paulus Kruger gedoop, maar van jongs af het hy as Paul bekendgestaan, omdat hy ’n ouer broer gehad het wat ook die name Stephanus Johannes gehad het.
In 1842 is hy met Anna Maria Etresia du Plessis getroud. Sy is in 1846 oorlede en in 1847 is Oom Paul met haar niggie, Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis (Tannie Gezina), getroud. Hulle het nege seuns en sewe dogters gehad.
Deur sy lewe het Oom Paul verskeie belangrike posisies beklee. Hy word egter veral onthou as vyfde president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR). Sy ampstermyn het van 9 Mei 1883 tot 10 September 1900 gestrek. Op 11 September 1900 het hy die grens van die ZAR na Mosambiek oorgesteek, vanwaar hy na Europa vertrek het om steun vir die Boererepublieke in die Anglo-Boereoorlog te gaan werf. Tannie Gezina was toe al baie sieklik en het in Pretoria agtergebly. Daar is sy op 20 Julie 1901 oorlede. Oom Paul is op 14 Julie 1904 in Clarens, Switserland oorlede. Sy oorskot is na Pretoria teruggebring en op 16 Desember 1904 in die Heldeakker in Kerkstraat te ruste gelê.
Reeds in 1882, toe hy nog vise-president van die ZAR was, is sy verjaarsdag tot openbare vakansiedag in dié republiek verklaar. Hy was besonder geliefd onder die Transvalers. 10 Oktober het ’n openbare vakansiedag gebly van dié jaar tot 1899 en is weer as sulks ingestel van 1952 tot 1994 – vandaar die benamings Krugerdag of Heldedag.
Vandag nog kan sy huis in Kerkstraat, Pretoria besigtig word – reg oorkant die kerk wat hy bygewoon het en waar hy dikwels gepreek het. Die Gereformeerde Kerk Pretoria, soos dit vandag bekendstaan, se hoeksteen is juis op 10 Oktober 1896 deur Oom Paul gelê. Dit was moeilike jare, want die runderpes het veral in 1897 groot ekonomiese skade aangerig. Klaas van der Rijsse wat die gebou moes ontwerp, het streng opdrag gekry dat die hele bouprojek slegs £8 000 sou kon kos. Dat Oom Paul self £2 500 bygedra het, bewys sy ontsag en liefde vir Sy Skepper en die kerk. Oom Paul en Tannie Gezina se stoele is vandag nog in die gebou te sien. Dit is die tuiste van die laaste Afrikaanse gemeente in die middestad van Pretoria.
Die Krugers se huis is ontwerp deur die argitek Tom Claridge en gebou deur Charles Clark, “een van my mak Engelse”, soos Oom Paul na hom verwys het. Die sement wat vir die bouwerk gebruik is, was in daardie jare ’n nuwe materiaal en die bouers het dit met melk aangemaak sodat dit beter kon bind! Die twee marmerbeelde van leeus op die hekpale voor die huis, is in 1896 deur Barney Barnato as verjaarsdaggeskenk aan hom gegee. Oom Paul het dikwels op die stoep gesit en daar mense van alle stande ontvang, raad gegee en oor sake beslis. Op ’n dag het hy ’n klein dogtertjie gesien wat reg voor ’n aankomende ossewa ingeloop het. Op die laaste nippertjie het hy die kind gered en haar ma deeglik uitgetrap omdat sy nie beter na haar kind gekyk het nie.
Nog ’n interessante staaltjie oor Oom Paul dateer uit die tyd direk na afloop van die Transvaalse Burgeroorlog. Die geskiedenis van dié oorlog is minder bekend, maar om dit kort te hou kan ons sê dat Oom Paul in die amp van kommandant-generaal van die ZAR in 1863 met die ondersteuners van die teenparty, Stephanus Schoeman, moes afreken. Die aangeklaagdes moes voor ’n krygsraad verskyn, waarvan Oom Paul die voorsitter was. Hulle is van hoogverraad aangekla en is beboet. Kontant of beeste is as betaalmiddels aanvaar. Van die manne het geweier om te betaal, en as straf is hulle bedags in ’n blok vasgesluit. Dit het op ’n lappie kweekgras in die koelte van ’n seringboom gestaan. Saans kon hulle huis toe gaan, maar bedags moes hulle weer aanmeld, tot die boetes betaal is. Lang Piet Marais het die ure daar verwyl deur viool te speel en die mense het graag na hom kom luister.
Die handelaar Alfred Broderick, wat ’n winkel op Kerkplein gehad het, het besluit om pret te hê met Oom Paul tydens sy verhoor. In die boek, Ou Pretoria, beskryf Gustav Preller die gebeure só (in ’n ouer weergawe van Afrikaans wat ons net so behou):
“Albertus Boodryk,” sê Kruger, … “die aanklag teen jou is dat jy ondersteuning, raad en bystand verleen het aan Generaal Schoeman, wat verraad is teen die Regering en ’n snode misdaad. Wat het jy vir jouself te sê?”
Daarop verduidelik Broderick dat hy nie weet nie en hulp benodig. Oom Paul herinner Broderick (of dan nou “Broodryk”, soos hy hom noem) dat die beskuldigde darem self moet weet. Broderick verduidelik kamma ernstig:
“In hierdie saak is ek net mooi in twee verdeel, ‒ in die middel deur. My linkerkant het hulp en raad aan Schoeman verleen, ‒ ek kon nie anders nie. Maar die regterkant van my het trou gestaan by die kant wat jy verteenwoordig, Kommandant.”
So maklik het Oom Paul hom nie laat vang nie. Hy het aan Broderick beduie dat die saak eintlik maklik is en die vonnis uitgespreek:
“Burger Broodryk se Linkerkant! Jy pleit skuldig op die klag van hoogverraad, ’n baie hatelike vergryp; en vir die misdaad beboet die hof jou met 500 riksdaalders. Die Laerkommandant sal beslag lê op die linkerkant van jou liggaam en jou linkerbeen in die blok sluit, totdat die boete betaal is.”
“Burger Broodryk se Regterkant! – Ek verwelkom en begroet jou as getroue burger van die Staat. Ons het maar min in Pretoria aangetref. Jy weet natuurlik dat die regering ’n groot kommando opgekommandeer het om die Staat te beskerm in hierdie rebellie waaraan jou Linkerkant deelgeneem het. En nademaal jy, getroue burger, nie in staat was om diens by die kommando te doen nie, beskou die hof dit as voorreg om jou die kans te gee om op ander wyse by te dra. Burger Broodryk se Regterkant! Ek kommandeer jou om tien goeie slagosse by te dra vir die kommando.”
Die vonnis is met ’n luide gelag begroet, maar “Burger Broodryk se Linkerkant en Regterkant” was skynbaar beide redelik bekaf.