|

Vandag se jeug kan steeds met M.T. Steyn assosieer

Die staatsman en regsgeleerde M.T. Steyn is en was ’n simbool van integriteit, hardwerkendheid, groot persoonlike opoffering ter wille van sy land, bevryding van kolonialisme en bevordering van akademiese opleiding. Met watter van dié eienskappe kan vandag se jeug nie assosieer nie?

Dít is wat Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wil weet in die lig van die storm wat tans rondom die M.T. Steyn-standbeeld woed. Die beeld staan tans voor die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat (UV) staan.

’n Taakspan van die UV is besig met ’n hersieningsproses om te besluit of die standbeeld geskuif moet word. Dié proses vorm glo deel van die UV se Institusionele Transformasieplan (IT) wat uit 12 spanne bestaan wat elk fokus op ’n spesifieke aspek met die doel om die omvang van transformasie by die UV uit te brei en te versnel.

Die standbeeld is intussen toegedraai tot dié hersieningsproses afgehandel is.

Die toedrag van sake spruit uit ’n vergadering tussen die rektor en studente in Maart op die Bloemfontein-kampus waar studente sterk standpunte oor die beeld uitgespreek het.

Lacea Loader, woordvoerder van die UV, het vroeër in ’n mediaverklaring gesê “monumente word opgerig as visuele kultuur wat mense konstant herinner aan iets of iemand wat belangrik is. Die simboliese waarde van monumente kan egter verander. Die waardes kan belangriker of minder belangrik word afhangende van veranderende sosio-politiese bedelings en gesindhede.”

Sy sê voorts dat die standbeeld nie inpas by ’n universiteit wat daarna streef om inklusiewe ruimtes te skep en nasiebou aan te moedig nie.

Volgens Bailey word nasiebou aangemoedig slegs as almal ewe welkom op ’n kampus voel.  Dit beteken almal se geskiedenis moet daar sigbaar wees en almal moet oor die betekenis van die verlede kan debatteer.  “As een gedeelte van die studentegemeenskap kan besluit wat mag bly en wat moet gaan, en hulle ongenuanseerde weergawe van die verlede verabsoluteer word, is dit eksklusief en bereik dit die teenoorgestelde.  Voeg eerder by die geskiedenis en moenie wegneem nie.”

Die UV het belanghebbendes verlede week geleentheid gegee om insette te lewer oor die toekoms van die standbeeld. AfriForum Jeug se Kovsies-tak en AfriForum het voorleggings ingedien wat die bedekking en verwydering van die standbeeld op die kampus teenstaan.

“Ons glo in kulturele vryheid, wat wedersydse erkenning en respek vir mekaar se erfenis, taal en kultuur behels. AfriForum Jeug wil hê daar moet ’n kultuur van inklusiwiteit op kampus heers, maar as een groep se erfenis nie welkom is nie, hoe moet alle studente welkom voel?” sê Chantelle du Preez, voorsitter van AfriForum Jeug se Kovsies-tak.

AfriForum Jeug en AfriForum het veral hul ongelukkigheid uitgespreek met die proses om die standbeeld te verwyder. “Die kampusbestuur gebruik die sogenaamde proses as rookskerm om belanghebbendes te paai, terwyl hulle reeds besluit het om van die standbeeld ontslae te raak,” sê Ohann Fourie, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir kampusstrukture.

Du Preez sê voorts AfriForum Jeug beplan ’n veldtog teen die verwydering van die standbeeld. “Ons wil studente inlig oor wie M.T. Steyn werklik was.

“Weens Asive Dlanjwa, president van die studenteraad, se uitlatings, is studente onder die indruk dat M.T. Steyn apartheid begin het, wat nie die geval is nie. M.T. Steyn is reeds in 1916 oorlede, ’n geruime tyd voor apartheid ingestel is.”

Marthinus Theunis Steyn was die sesde en laaste Staatspresident van die Oranje-Vrystaat vanaf 1896 tot 1902. Hy is as ’n vryheidsvegter teen Britse Imperialisme bestempel. Steyn is op 28 November 1916 oorlede terwyl hy ‘n vroueverenigingvergadering in Bloemfontein toegespreek het. Hy is by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Hy was egter nie ’n stigterslid van die Nasionale Party nie.

Adv. Colin Steyn, ’n senior staatsaanklaer en agterkleinseun van Steyn, het hom in die media beskryf as ’n pragmatis en bouer van ’n vrye staat. Hy sê Steyn het tydens die eenwording in 1908 en 1909 as regsgeleerde beklemtoon dat swart mense fundamentele regte het.

’n Transformasiekomitee van die UV het in 2015 ook bevind dat Steyn se standbeeld nie aanstoot gee nie.

Cecilia Kruger, hoofkunsbewaarder by die Voortrekkermonument, meen standbeelde moet nie geskuif word nie omdat dit spesifieke betekenis het en ook betekenis oordra aan die omgewing waar dit opgerig is.

Sy meen dat indien Steyn se standbeeld verwyder word, daar steeds op ’n manier erkenning aan hom op die kampus gegee moet word.

Sy sê voorts dat hoewel hervestiging die laaste alternatief is wat oorweeg moet word, die Vrouemonument ’n goeie skuif sal wees omdat Steyn daar begrawe is en sy beeld toeganklik sal wees vir die publiek. Sy sê voorts dat indien die UV die beeld wil skuif hulle daarvoor sal moet betaal wat nie goedkoop gaan wees nie.

Prof. Piet Strauss, voorsitter van die Vrouemonument-kommissie, het luidens mediaberigte gesê dat die standbeeld op hul perseel verwelkom sal word. Hy meen hoewel die skuif van die beeld nog nie amptelik bevestig is nie, die kommissie omgee wat daarmee gebeur aangesien “Steyn die vader van die Vrouemonument is”.

Soortgelyke plasings