|

Vakansieswendelaar: Ondersoek afgehandel, verhoor lê nou voor

Die ondersoek van bedrog teen die reisagentskapbaas Francois Swart is nou afgehandel. ’n Staatsaanklaer het dít vandag in die Modimolle-landdroshof bevestig – Swart het kortliks verskyn voor die saak uitgestel is. Swart is die besturende direkteur van Priority Escapes en het na bewering talle voornemende vakansiegangers uit honderdduisende rande geswendel.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid verteenwoordig twee klaers wat in Augustus verlede jaar strafregtelike klagtes teen Swart gelê het by die Modimolle-polisiestasie. Die lasbrief vir sy arrestasie is vroeg Desember uitgereik ná die privaatvervolgingseenheid ingegryp het. Die saak is uitgestel tot 22 Maart sodat die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) kan besluit of die saak na die streekhof oorgeplaas moet word vir die verhoor. Die verhoordatum sal ook na verwagting dan bekendgemaak word.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het die Modimolle-polisie en aanklaers geloof vir hulle werk in hierdie saak. “Ons het besluit om hierdie saak plaaslik te hou en dit aan die plaaslike polisie rapporteer – nou is ons al in die hof terwyl die Valke se ondersoek nog sloer. Ons is baie tevrede met die vordering tot dusver en is vol vertroue dat die verhoordatum op 22 Maart vasgestel sal word.”

Die twee klaers wat deur die eenheid verteenwoordig word, Pamela Anne Dolan en Bug van Heerden, het ook die verrigtinge bygewoon. Dolan sê dit was onwerklik om Swart in die beskuldigde bank te sien. “Ek het hom nog nooit voorheen ontmoet nie en hier is die persoon wat ons geld gevat het. Dit voel of ’n klein bietjie geregtigheid nou geskied omdat ek weet dat die saak nou verhoor gaan word en hy gaan nie wegkom met sy streke nie,” sê Dolan.

Dolan het ook die privaatvervolgingseenheid bedank vir hulle ondersteuning. “Ons het aan die begin nie veel hoop vir hierdie saak gehad nie en toe vorder dit skielik vinnig. Die deurlopende ondersteuning en bemoedigende boodskappe van die span af het werklik ons hoop herstel.”

Soortgelyke plasings