Vader van Afrikaanse kunslied se bydrae word op 13 April gevier
S le Roux Marais, wat as die vader van die Afrikaanse kunslied bestempel word, se werk word vandeesmaand deur die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) in samewerking met Rosa Anderson, pianis en dryfkrag agter die projek, op die voorgrond geplaas.
Altesame 17 kunstenaars – Daniël Verster, Coert Grobbelaar, Johan Coertzen, Duard Jonker, Chris Mostert, Rory Rootenberg, Douglas MacFarlane, Werner Fourie, Anotionette Olivier, Deidre Blignaut, Linette van der Merwe, Lizette Jonker, Alta van Huyssteen, Sandra Wolmarans, Hannetjie van Zuydam, Mellie de Bruyn en Kirsten Koekemoer – sal op 13 April in die Pierneefteater in Pretoria optree om die reusebydrae van S le Roux Marais te vier.
Stephanus le Roux Marais is op 1 Februarie 1896 in Bloemfontein gebore en op 25 Mei 1979 in Graaff-Reinet oorlede.
Die komponis se liedere het internasionaal erkenning en waardering by gehore uitgelok.
Min inligting oor Marais se werksomstandighede as musiekonderwyser, pianis, orrelis, koorleier, skilder en komponis was bekend totdat H.W. Holzapfel in 1992 sy doktorsgraad oor Marais en sy werk aan die Universiteit van Stellenbosch gedoen het.
’n Volledige lys van sy werke is ook vir die eerste keer in dié proefskrif opgestel.
Marais was in die eerste plek ‘n liederekomponis. Hy het egter ook ‘n aansienlike hoeveelheid koormusiek, etlike stukke vir klavier, vir orrel, sowel as drie operettes gekomponeer.
Marais se oeuvre hang nou saam met die ontwikkeling van die Afrikaanse taal. Veral aan die begin van sy loopbaan was hy ’n baie aktuele komponis: heelwat van sy toonsettings het kort na die ontstaan van die betrokke gedigte die lig gesien. Op die manier het hy ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse liedereskat en die Afrikaanse kultuur in die algemeen gelewer.
Marais was geïnteresseerd in kuns in die algemeen. Sy eerste groot liefde was die musiek en hy het meer as 150 werke gekomponeer. Sy tweede liefde was die skilderkuns en hy het tussen 120 en 130 skilderye, meestal stillewes en blomstudies gemaak.
Luidens Holzapfel se proefskrif was Marais ‘n instinktiewe komponis. ’n Ontledende aard, formele tegnieke en woordgetroue verklanking is vreemd aan sy styl. Hy gebruik ‘n soort neo-romantiese idioom en die beste eienskap van sy musiek is sy melodieë. Dit is byna altyd gelaai met gevoel en warmte en daarom verstaanbaar vir die wye publiek.
Marais is deel van die kultuurgeskiedenis van Suid-Afrika en onder van sy bekende toonsettings en werke is Heimwee, Lied van Mali die slaaf, Die roos, Verlange, As ek moet sterwe, Dis al, As saans, Geboorte van die lente, Langs stille waters, Matrooslied, Moeder, Treurlied, Die donkerstroom en ’n Gebed. Hy het ook ’n hele paar skoolliedere gekomponeer.
Musiekkenners meen S le Roux Marais het Afrikaans tot sangtaal verhef en solank Afrikaans bestaan, sal sy liedere gesing word.
Die skouspel op 13 April by die Pierneefteater begin om 19:00. Toegang is R100 per persoon. Om te bespreek, skakel Jopie Koen by 012-329-0709.