Vaalharts-buurtwag ry vermeende luserndief se planne in die wiele
AfriForum se Vaalharts-buurtwag het vandag in die vroeë oggendure ’n vermeende luserndief se planne in die wiele gery nadat hy probeer het om drie lusernbale te versteek. Die voorval het om 03:00 gebeur toe dié buurtwag ’n waarskuwing van Sn Quality Products CCTV, ’n kameramoniteringsmaatskappy, ontvang het oor ’n moontlike dief op die hoek van Strydomstraat en Industrieweg. Dié moniteringsmaatskappy speel al lank ’n deurslaggewende rol in die beveiliging van die gebied. Die vinnige reaksie van die buurtwag en die plaaslike polisie het gelei tot die beslaglegging van die gesteelde lusernbale.
“AfriForum se Vaalharts-buurtwag is daartoe verbind om misdrywe wat teen inwoners en die landbougemeenskap gepleeg word, te bekamp. Hierdie sukses is ’n bewys van die proaktiewe maatreëls wat ingestel is om hierdie gebied te beveilig en beklemtoon opnuut hoe deurslaggewend tegnologie en gemeenskapsamewerking kan wees om die veiligheid van landboubates te verseker,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Die sukses van hierdie reaksie kan toegeskryf word aan die netwerk van sekuriteitskameras wat strategies regoor die Vaalharts-omgewing geïnstalleer is. Die Vaalharts Distrik Landbou Unie se veiligheidskomitee het die voortou geneem met dié inisiatief, waarna AfriForum se Vaalharts-buurtwag ’n aktiewe rol gespeel het in die vestiging van die moniteringsinfrastruktuur en die installering van kameras, veral in Hartswater. Die resultate spreek vanself; die moniteringsvermoë ontmoedig nie net kriminele aktiwiteite nie, maar lei ook tot talle suksesvolle ingrypings en selfs inhegtenisnemings.
Smit voeg by dat die verhouding tussen die Landbou Unie en die AfriForum-buurtwag ’n onontbeerlike faktor is in die bekamping van misdaad. Hierdie vennootskap beklemtoon die belangrikheid daarvan dat gemeenskappe kragte saamsnoer om beskikbare hulpbronne en tegnologie te gebruik om landboudiefstal en ander misdade aan te pak.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum se Vaalharts-tak te ondersteun en ’n golf van positiewe verandering in die gemeenskap teweeg te bring.